Central SA
Hoër Meisieskool Oranje rou oor die dood van hul oudskoolhoof─── 15:44 Tue, 17 Aug 2021
Die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein rou oor die dood van hul oudskoolhoof, Mariehetta Matthee, wat van 1993 tot 2017 die skool gelei het.
Die 69-jarige Matthee laat 'n erfenis van trots, harde werk, toewyding en lojaliteit agter. Die woordvoerder van die skool, Ruan Bruwer, sal Matthee onthou as 'n persoon wat oor die vermoë beskik het om mense gemaklik in haar teenwoordigheid te laat voel, ongeag haar status.
Bruwer sê ná 7 jaar as onderwyser en 25 jaar as skoolhoof het Matthee diep spore getrap. Bruwer sê die skool is besig om 'n gedenkdiens vir haar te reël en sê haar as sal by die skool gebêre word, aangesien sy nooit getroud was nie, maar met die skool getroud was.

“Sy het vir die skool geleef. As 'n mens kyk na die boodskappe wat van vroegoggend af van ou leerders af inkom, wys dit dat sy beslis ‘n impak gehad het. Sy was ook bekend daarvoor dat sy die kinders op hul name geken het, sy het geweet wie is hulle ma, wie is die ouma, en wie van die ouers ou leerders was. Sy het regtig belang gestel en ek dink dit het haar nogal besonders gemaak,” sê Bruwer.
“Sy het so baie nagelaat, byvoorbeeld die eeufeesboek wat sy in 2007 geskryf het wat basies die hele skool se geskiedenis oor 100 jaar gedokumenteer het en wat baie volledig is,” sê Bruwer.
Sy is Maandag 16 Augustus oorlede. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
OFM-nuus/Blaine Jones
