Central SA
Namakwaland blom met toeloop van toeriste─── 09:26 Tue, 07 Sep 2021

Die uitvoerende burgemeester van die Namakwa-distriksmunisipaliteit, Mervin Cloete, sê die blommeseisoen is die beste seisoen vir die streek omdat dit groot getalle toeriste vanuit alle oorde na die gebied lok.
Hy sê op die eens stil lughawe by Springbok land daar nou meer as 40 vlugte per week terwyl gastehuise en karavaanparke uit hulle nate bars.
Meer as 3 000 toeriste het die afgelope tyd op Namakwaland toegesak en nog meer mense word verwag in vergelyking met die vorige seisoen toe die nasionale inperking en verbod op reise tussen provinsies baie minder toeriste tot gevolg gehad het.
Cloete sê die groot getalle toeriste wat tans na die blommeprag kyk, help ook kleinsakeondernemings nadat alles sedert Maart 2020 weens die Covid-19 pandemie en die gevolglike inperkings tot stilstand gedwing was. Hy sê hoewel Namakwaland in 'n lappieskombers van blomme gehul is, moet diegene wat die gebied besoek aan die nodige protokolle voldoen en hulleself onderhewig aan die nasionale inperkingsmaatreëls stel. Motoriste is ook gevra om nie aan die verkeerde kant van die pad te staan wanneer hulle na die blomme kyk nie aangesien dit tot ernstige ongelukke en lewensverliese kan lei.
Cloete sê die Nama Khoi-munisipaliteit en groot gedeeltes regoor die streek het nou toeriste se aandag aangegryp en hy vra dat inwoners die geleentheid, om ekonomies voordeel uit die blommeprag te trek, moet aangryp. Hulle moet 'n mark skep waarna alle toeriste weer wil terugkeer om te ondersteun.
OFM-nuus/Roderick Titus