On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

#Mangaung-metropolisie se draad eers kortgeknip

───   CATHY DLODLO 10:17 Wed, 06 Oct 2021

#Mangaung-metropolisie se draad eers kortgeknip | News Article

‘n Ooreenkoms tussen die nuwe Vrystaatse LUR vir Samewerkende Regering, Mxolisi Dukwana, verskeie drukgroepe en die bestuur van die Mangaung-metromunisipaliteit het die werksaamhede van die "nuut-aangestelde" metropolisie ná net vier dae gestaak.

Die Vrystaatse departementshoof van Samewerkende Regering, Mokete Duma, sê verskeie rolspelers het tot laat Dinsdagaand met die nuwe Vrystaatse LUR vir Samewerkende Regering, Mxolisi Dukwana, en die bestuur van die Metro-munisipaliteit vergader. 

‘n Ooreenkoms is bereik met die verskillende gemeenskapsdrukgroepe, wat geëis het dat die werksaamhede van die beplande metropolisie onmiddellik gestaak word.

LEES MEER: Disgruntled Mangaung residents hand over memorandum

Sedert Saterdag kon Mangaung se inwoners oral in die stad Metropolisielede waarneem. Dit blyk nou dat dié lede dalk nie volgens behoorlike prosesse aangestel is nie. 

Duma sê die drukgroepe het kapsie gemaak teen die aanstellings en oor wie by magte is om die Metropolisielede se aanstellingsbriewe te teken. ‘n Span is ingevolge die ooreenkoms aangestel om die hele proses te ondersoek. Daar gaan onder meer gekyk word of die inlywing van die Mangaung Verkeersdepartement volgens die voorgeskrewe wetgewing plaasgevind het.

Die aanstelling van die metro-polisie is al vir die afgelope maand in omstredenheid gedompel. Een van die drukgroepe, Mangaung Concerned Community, wat vroeër vanjaar verantwoordelik was vir ‘n staking teen swak dienslewering en die metro vir dae tot stilstand geruk het, het gedreig om weer die strate in te vaar as daar met die inlywing van die Metropolisie voortgegaan word. ‘n Dringende ingryping vanaf die provinsiale regering op die vooraand van die staking het die situasie ontlont.

LEES MEER: #MangaungShutdown: VS Premier besoek Siegel-familie

Saterdag, net dae ná dié ingryping, kon die nuwe lede van die Metropolisie egter oral in die stad waargeneem word tydens die besoek van die adjunk-president David Mabuza. Die Metropolisie het ook sedert die begin van die week verskeie padblokkades in die stad gehou. 


Drukgroepe het hulle kommer uitgespreek oor die proses wat gevolg is met die aanstelling, maar ook oor die koste daarvan uit die begroting van ‘n reeds brand-arm munisipaliteit wat onder administrasie geplaas is.

Dit is nog nie bekend hoeveel nuwe Metropolisielede in totaal aangestel is nie en hoeveel lede van die bestaande Verkeersafdeling van die munisipaliteit deel van die nuwe eenheid uitmaak nie.

LEES MEER: #MangaungShutdown - MEC reacts to death of pupil


OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.