On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hospersa eis die sluiting van staatslykhuise wat nie aan vereistes voldoen nie

───   12:00 Sat, 16 Oct 2021

Hospersa eis die sluiting van staatslykhuise wat nie aan vereistes voldoen nie | News Article

Die vakbond Hospersa, wat gesondheidswerkers verteenwoordig, se Noord-Kaapse ondervoorsitter, Dennis Segano, het die provinsiale Departement van Gesondheid gevra om alle staatslykhuise wat nie aan die voorgestelde vereistes voldoen nie, te sluit.

Dit volg ná klagtes deur sy lede dat hulle gedwing word om in haglike omstandighede te werk. 

Hospersa sê 10 van die 20 yskaste by die lykhuis in Kimberley is buite werking, en dat die omstandighede regoor die provinsie dieselfde is, met die uitsondering van die lykhuise in Springbok en Upington.

Die vakbond sê forensiese amptenare kan nie hulle pligte uitvoer nie omdat hulle ook nie die nodige toerusting het nie en dat 'n personeeltekort sake verder bemoeilik.

Segano sê die trauma waaraan sy lede blootgestel word, is onmenslik en kan nie langer toegelaat word nie. 

Hy sê dringende ingryping is nodig aangesien probleme sover as Kuruman ook aangemeld is, en die toestand van die lykhuis by Douglas het daartoe gelei dat die Departement van Arbeid die geriewe gesluit het. 

Die departement se woordvoerder, Lebogang Majaha, het intussen aangevoer dat die Gesondheid 'n instandhoudingsplan het waarvolgens herstelwerk gedoen word. Hy ontken dat lykhuise buite werking is.

Hy sê persoonlike beskermingstoerusting word, soos benodig, verskaf en dat voertuie wat onpadwaardig is, nie in gebruik is nie. Majaha sê verder die departement is in oorleg met die Departement van Arbeid besig om die nodige herstelwerk by Douglas se lykshuis te doen, waarna dit heropen sal word. 

Hy sê berading word deur middel van kliniese sielkundiges vir personeel van lykhuise regoor die provinsie verskaf.


OFM-nuus/Roderick Titus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.