Central SA
Pofadder-moordverdagte glo in aanhouding aangerand─── 15:10 Fri, 22 Oct 2021
Die 31-jarige Suretha Brits, wat beskuldig word van die moord op haar man, Leon Brits van Poffader in die Noord-Kaap, het 'n strafregtelike klagte teen 'n mede-gevangene ingedien.
Dit volg nadat sy glo aangeval is ná 'n onderonsie. Brits het tydens die voorval krapmerke op haar gesig opgedoen.
'n Woordvoerder vir die Departement van Korrektiewe Dienste, Josial Ramokoena, sê die departement het 'n klag van aanranding vanaf Brits ontvang en stel tans ondersoek in.
Hy voeg by enigiemand in aanhouding, wat hulself aan wangedrag skuldig maak, word aan 'n dissiplinêre proses onderwerp.
Brits sal weer op 15 November vanjaar in die Landdroshof in Upington verskyn.
OFM-nuus/Roderick Titus
