Central SA
87 beweerde onwettige mynwerkers in hof verwag─── BLAINE JONES 09:30 Mon, 25 Oct 2021
Die saak teen 87 beweerde onwettige mynwerkers, wat in hegtenis geneem is ná 'n skietery tussen hulle en die polisie, sal vandag in die Orkney-landdroshof hervat word.
OFM-nuus het voorheen berig oor die verdagtes wat in hegtenis geneem is ná 'n voorval waar agt mense gewond is en ses gesterf het in 'n skietery met lede van die Valke in Orkney verlede week Woensdag.
Die verdagtes staan tereg op aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van goud, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die onwettige besit van verbode vuurwapens, diefstal en sameswering om 'n oortreding te pleeg.
Daar word berig dat die Valke inligting ontvang het en op die geïdentifiseerde skag toegesak het, waar die verdagtes op hulle losgebrand het. Die polisie het teruggeskiet. Agt verdagtes is gewond en ses het gesterf, terwyl 87 in hegtenis geneem is. Een lid van die Valke is ook gewond. Die gewonde verdagtes is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem.
Grace Langa, woordvoerder van die Inafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (IPID), het aan OFM-nuus bevestig dat hulle die saak ondersoek. Langa sê hulle het tot dusver verklarings en wapens wat op die toneel gebruik is, versamel om ballistiese toetse te doen.
OFM-nuus/Blaine Jones
