Central SA
#Covid19-gevalle neem skerp af in NW─── BLAINE JONES 12:43 Thu, 11 Nov 2021
Die daaglikse, nuwe Covid-19-gevalle in Noordwes het 'n skerp afname getoon.
Noordwes se Departement van Gesondheid het onlangs 'n verklaring uitgereik en gesê hoewel daar 'n afname in gevalle is, moet mense nog steeds bewus wees van voorkomende maatreëls, soos om ingeënt te word.
Die einde van die derde golf is verlede maand in die provinsie aangekondig. Madoda Sambatha, LUR vir Gesondheid in Noordwes, sê die begin van die maand Oktober het die provinsie sowat 2 800 aktiewe gevalle gehad, terwyl nuwe daaglikse gevalle 77 was. Sedertdien was daar 'n beduidende daling van aktiewe gevalle asook nuwe daaglikse gevalle.
Op Woensdag 10 November het die aktiewe gevalle verder gedaal tot 737 terwyl die nuwe daaglikse gevalle tot 23 gedaal het. Sambatha sê hoewel die provinsie verbeter het van die drie swakste provinsies, na 'n posisie in die topses, is dit steeds kommerwekkend dat inentingsopname nie momentum opbou, soos wat verwag is nie.
Sambatha sê die departement het 'n teiken van 2,69 miljoen mense wat hulle moet inent om bevolkingsimmuniteit te bereik, maar hulle het nog steeds nie die helfte van hierdie teiken bereik nie. Sambatha het mense verder aangemoedig om ingeënt te word om hierdie doel te bereik.
"Die goeie nuus is dat ons nou uit die derde golf van die pandemie is. Op pad na die feesseisoen is die publiek gewaarsku oor roekelose gedrag, wat 'n terugslag kan wees," het die LUR, Sambatha, gesê.
Die SABC het intussen berig volgens die Departement van Gesondheid dui die huidige lae Covid-19-infeksiekoers moontlik daarop dat die verwagte vierde vlaag eers later sy opwagting in Suid-Afrika gaan maak. Aanvanklike voorspellings het gelui dat die vlaag in Desember infeksiesyfers sou laat styg. Die SABC berig die departement se Covid-19-spanleier, Lesley Bamford, sê die vierde vlaag word nou eers in Januarie in die land verwag. Bamford sê daar is verskeie faktore wat tot die vertraging aanleiding gegee het, maar die belangrikste is dat ‘n vierde vlaag Suid-Afrika wel gaan tref en dat die departement hom daarvoor moet voorberei.
OFM-nuus
