Central SA
Vrou (22) in hof ná neef se mesdood─── BLAINE JONES 10:01 Mon, 22 Nov 2021
Die saak teen 'n jong vrou wat na bewering haar neef met 'n mes doodgesteek het, sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Schweizer-Reneke in Noordwes plaasvind.
Die polisiewoordvoerder in Noordwes, Amanda Funani, sê die polisie in Amalia het die 22-jarige vrou Saterdag in hegtenis geneem. Die slagoffer is dood verklaar voordat hy na 'n nabygeleë hospitaal vervoer kon word.
Die slagoffer en sy meisie het glo vroeër die dag sy ma se huis besoek waar sy niggie ook was. Hulle het na bewering 'n argument gehad en die beskuldigde het 'n mes uitgehaal en gedreig om die slagoffer te steek, maar die slagoffer se meisie het die mes by die verdagte gegryp. Die slagoffer en die beskuldigde is daarna alleen gelos. Funani sê later die dag het die slagoffer by sy huis, wat drie huise van sy ma se huis af is, aangekom en vir sy meisie gesê sy niggie het hom in die bolyf gesteek.
’n Ambulans is ontbied, maar die slagoffer is dood voordat hy na die nabygeleë hospitaal vervoer kon word. Die polisie is daarna ontbied en die verdagte is in hegtenis geneem en van moord aangekla. Die motief vir die moord is nog onbekend en 'n ondersoek na die saak duur voort.
OFM-nuus
