Central SA
Gebiede in Bfn steeds sonder water te midde van onderhandelinge─── BLAINE JONES 14:12 Mon, 22 Nov 2021
Gebiede in Bloemfontein is steeds sonder water of behoorlike waterdienste ten spyte van gesprekke om die volle herstel van water na alle gebiede te bewerkstellig.
Die Bloemfontein-gebaseerde Mangaung-metro munisipaliteit het die naweek 'n verklaring uitgereik het waarin inwoners in kennis gestel is dat die stad 'n betaling aan Bloemwater gemaak het en in gesprekke is om watertoevoer te herstel.
DA Mangaung-raadslid, Rossouw Botes, sê Bloemwater het Vrydagoggend die lewering van water aan Mangaung-inwoners na 30% verminder as gevolg van die rekening van R270 miljoen wat uitstaande is vanaf Junie 2021 tot Oktober 2021. Botes sê ná vele onderhandelinge is daar nog steeds nie ‘n oplossing nie.
“Vrydagmiddag laat het die munisipaliteit R20 miljoen aan Bloemwater oorbetaal, wat volgens Bloemwater nie voldoende is nie want dit is ‘n deel van die hofbevel wat bepaal het dat hulle ‘n agterstallige bedrag teen R20 miljoen per maand moet afbetaal. In werklikheid is daar nog nie betaal vir die [nuwe] waterverbruik self nie. Dit het meegebring dat daar vele onderhandelinge oor die naweek plaasgevind het. Soos ons nou praat, is hulle nog steeds in onderhandelinge van agt-uur vanoggend af,” sê Botes.
Hy sê dit is die vierde dag en sommige waterkrane is nog steeds droog. Hy sê soos wat hul opname aandui, het tien woonbuurte in Bloemfontein geen water, gedeeltelike water of swak waterdruk en in sommige dele van die townships sit mense al van Donderdag af sonder water.
“Ons kry gemiddeld R4,5 miljoen per dag [aan munisipale inkomste]. As jy dit gaan uitwerk, kry ons in die omgewing van R135 miljoen plus ander geld wat inkom. Dit beteken as hulle sê hulle kan nie eens hul waterrekening betaal nie, is dit die grootste nonsens want ons waterrekening aan Bloemwater wissel, afhangend van of dit winter of somer is."
In die naweek se verklaring, het die woordvoerder van die munisipaliteit, Qondile Khedama, inwoners, besighede en alle waterverbruikers binne die jurisdiksie van Mangaung verder aangemoedig om hul rekeninge te betaal sodat die stad kan voortgaan om basiese dienste te lewer.
“Dit is die grootste nonsens waar hulle vir mense sê om te betaal. Die mense betaal reeds maar die probleem is, hulle kanaliseer daardie geld verkeerd na areas, mense en kontrakteurs wat die ANC goedgesind is. Die tradisionele, goeie kontrakteurs, konsultante en diensverskaffers word nie eens betaal nie as gevolg van politieke inmenging in hul rekenings,” sê Botes.
OFM-nuus
