Central SA
Besteding van miljoene aan Vrystaatse sittings gekritiseer─── CATHY DLODLO 08:16 Thu, 17 Mar 2022
Die Vryheidsfront Plus in die Vrystaatse Wetgewer het sy misnoeë uitgespreek oor die besteding van miljoene rande aan die Vrystaatse Provinsiale Rede en ‘n sitting van die Huis waartydens die provinsiale begroting ter tafel gelê is.
Die party se lid van die Provinsiale Wetgewer, Armand Cloete, sê dit is onaanvaarbaar dat die Wetgewer – wat juis besteding en dienslewering moet monitor – te midde van kostebesparings miljoene op dié sittings bestee het.
Cloete sê die provinsiale rede het die provinsie R4,4 miljoen gekos terwyl die begrotingsrede R2,7 miljoen gekos het. Cloete sê die totale koste, R7,1 miljoen, is net deur die wetgewer bestee en sluit nie die uitgawes van die provinsiale departemente in nie.
Hy sê sy party het tydens die aanvang van die Covid-19-pandemie die Vrystaatse regering uitgedaag om vermaak, spyseniering, vervoer en die huur van lokale en geriewe te besnoei en om die krane van luukshede toe te draai.
