Central SA
Lucas vat Vass vas oor besteding─── 15:17 Wed, 30 Mar 2022
Adjunk-voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Silvia Lucas, het die Noord-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering, Bentley Vass, daarop gewys dat te veel geld sedert die begin van die Covid-19 pandemie tot op hede aan watertenkwaens bestee is
Sy sê verder dat ‘n langtermyn-oplossing nodig is.
Lucas het verder Vass daarvan beskuldig dat hy probeer het om uitgawes rondom watertenkwaens voor die deur van die nasionale regering te lê.
Die provinsiale Departement van Landbou het ook onder skoot gekom, na hul voorlegging oor die invloed van natuurrampe.
Lucas sê daar word nie genoeg gedoen om ‘n rampbestuurplan vir die provinsie in plek te stel nie.
LEES MEER: Munisipaliteite se dienslewering beoordeel
Die Nasionale Raad van Provinsies doen tans 'n oorsigbesoek in die Noord-Kaap, en het Maandag ‘n aanlyn vergadering by die Sandile Present-biblioteek in Upington gehou.
Hier is kwessies soos die voortslepende droogte, vloede, en die huidige sprinkaanplaag, sowel as dienslewering in die provinsie, bespreek.
LEES MEER: Springbok-inwoners praat oor hordes sprinkane wat deur dorp beweeg het
Die raad se woordvoerder, Mlindi Mpindi, sê afgevaardigdes is in die Dawid Kruiper-munisipaliteit, asook die Kai Garib- en Nama Khoi-munisipaliteite om dienslewering te beoordeel.
Die afvaardiging gaan ook droogtegeteisterde gebiede soos Springbok besoek om die impak van die droogte te bepaal, waarna hulle die Boegoebaaihawe-ontwikkeling in Port Nolloth sal besoek.
OFM-nuus/Roderick Titus
