Central SA
Arbeidsdepartement benodig inspekteurs in Sentraal Suid-Afrika─── CATHY DLODLO 08:44 Tue, 05 Apr 2022
Die Departement van Arbeid gaan gebuk onder druk weens verskeie poste vir inspekteurs wat in Sentraal Suid-Afrika vakant is.
Dit is volgens die geskrewe antwoord op ‘n vraag wat in die parlement ter tafel gelê is. Die departement het die jongste statistieke vir vakante poste teen die einde van die vorige boekjaar – in Maart vanjaar – bekend gemaak. Altesaam 11 inspekteurs moet binne vier maande in die Vrystaat, in die nuwe boekjaar, aangestel word.
Die Noord-Wes en Noord-Kaap het onderskeidelik nege vakante poste. Die departement wat verantwoordelik is vir inspeksies by maatskappye – om seker te maak dat werkgewers nie die arbeidswet of -regulasies oortree nie - het sowat 2000 poste vir inspekteurs landwyd beskikbaar.
Intussen het ‘n Vrystaatse tak van dié departement vandeesweek op sosiale media opslae veroorsaak toe ‘n video die rondte gedoen het. Dit wys hoe ‘n beampte van die kantoor in Bethlehem deur polisie en sekuriteitswagte uit die kantoor verwyder word. Die departement is hewig op sosiale media gekritiseer en daarvan beskuldig dat die amptenaar met magsvertoon uit die kantoor verwyder is.
Die departement het hierop - in ‘n verklaring - gesê die amptenaar is nie hardhandig behandel nie. Hy is glo net deur die polisie en sekuriteitswagte uit die kantoor “vergesel”. Hy is glo gevra om die kantoor te verlaat nadat hy homself wangedra het. Die departement sê die amptenaar se optrede het dienslewering beïnvloed en die hulp van die polisie en sekuriteitswagte is ingeroep. Geen verdere inligting oor enige moontlike optrede teen die amptenaar is bekend nie.
