On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemskou rede vir glimlagte op kindergesigte

───   09:43 Thu, 28 Apr 2022

Bloemskou rede vir glimlagte op kindergesigte | News Article

Dit vat baie fyn beplanning om Bloemskou jaarliks aan te bied, maar daar word ook gefokus om aan die gemeenskap terug te gee.

Vanjaar het Bloemskou die voorreg gehad om die pretpark toeganklik te maak vir kinders wat minderbevoorreg is.

Bloemfontein Courant se Jeretha Oosthuizen berig die Joy for Charity-projek, ‘n gemeenskapsprojek van Bloemskou en Fun Carnivals, het op 26 April altesame 251 kinders met 33 toesighouers van die ENGO-kinderhuise toegelaat om gratis onbeperk op alle pretparkritte te baljaar. Die kinders het vooraf paaseiers gesoek en ná afloop van die ritte, is hulle bederf met spookasem, springmielies en koeldrank.

“Dit is ‘n voorreg om op so 'n manier terug te gee aan die gemeenskap en ‘n glimlag op ‘n kind se gesig te plaas,” het Elmarie Prinsloo, uitvoerende direkteur van Bloemskou, gesê.

Intussen het daar gister groot opgewondenheid geheers met die afskop van die Bloemskou, maar dit het tandekners gekos om die skou in ‘n rekordtyd gereed te kry. Prinsloo sê die Bloemskou-span het vroeer vanjaar in spanning gewag vir die aankondiging van nasionale regulasies wat dit vir organisasies moontlik maak om weer groot geleenthede van meer as 2000 mense aan te bied.

“Hierdie aankondiging is eers in Februarie vanjaar gedoen – slegs twee maande voor die amptelike skoudatum. Dit het almal onder groot druk geplaas, maar in ‘n massiewe spanpoging het ons besluit: ONS GAAN SKOU VANJAAR!”

Wat egter ‘n verdere stok in die wiel gesteek het, was die voorwaarde dat besoekers ‘n bewys van inenting of negatiewe Covid-toets moet toon. Maar die toegewyde span van die Bloemskou het hulle nie daardeur laat onderkry nie.

“Ondanks die logistieke nagmerrie het Bloemskou alles probeer om hierdie so maklik as moontlik te maak. Ons het as vergunning vir besoekers twee toetspunte aangebring van die Arrie Nel-apteekgroep, wat gesubsidieerde Covid-toetse teen R95 elk doen. Een punt is by Hek 4 (langs Catbox) en een net verby die Builders Warehouse-parkering,” sê Prinsloo.

Besoek www.bloemskou.co.za vir meer inligting.

Bloemfontein Courant/Jeretha Oosthuizen

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.