Central SA
Meer geld vir kleinsake-ontwikkeling in armer provinsies: Minister─── 06:07 Thu, 12 May 2022
Kleinsake-ontwikkeling Minister, Stella Ndabeni-Abrahams, het die Nasionale Vergadering beloof dat beter befondsing vir klein- en medium-ondernemings in armer provinsies - soos die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes - beskikbaar gemaak gaan word.
Ndabeni Abrahams het die komitee ingelig oor presies hoe die finalisering van die befondsingsbeleid deure gaan open vir die beskikbaarstelling van befondsing aan diegene wat dikwels sukkel om hulp van banke te kry. Sy sê haar departement se taak is om die heersende kredietgaping van minstens R346 miljard te verklein in die finansiering van KMMO’s in Suid-Afrika.
Ndabeni-Abrahams sê die finalisering van die befondsingsbeleid, genaamd die Suid-Afrikaanse KMMO’s en kooperasies se befondsingsbeleid, sal ‘n naatlose vloei van finansiers na kleinsake-ondernemings daarstel. Die minister sê verder dat van die R2 miljard wat vir die 2022/23 finansiële jaar toegeken is, minstens R200 miljoen se befondsing aan klein ondernemings in elk van die land se nege provinisies uitbetaal word.
Sy sê effens meer sal na die armer landelike provinsies gaan, soos die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes, asook die Oos-Kaap en Mpumalanga beskikbaar gemaak word. Meer as 84 831 klein- en medium-sakeondernemings en kooperasies gaan hieruit voordeel trek, wat nagenoeg 104 968 werksgeleenthede kan skep.
OFM-nuus/Roderick Titus
