Central SA
Landbounuus-podcast: Ryp goed vir mielieboere─── ELSABÉ RICHARD 12:41 Thu, 16 Jun 2022
Die ryp wat weens die erge kouetoestande in dele van die Noord-Kaap voorkom, is goed vir mielieboere.
Dit is volgens Nicol Jansen, die president van Agri Noord-Kaap. Hy deel dat die stroopseisoen vanjaar laat is omdat die mielies nie kans kry om droog te word nie. Jansen voeg by dat saam met die kouefronte kom reën in die winterreënvalgebiede voor.
‘n Virtuele staptog teen plaasaanvalle en –moorde vind op 16 en 17 Junie plaas. Volgens Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, is die plan om binne 24 uur virtueel 6 065 kilometer te stap. Hy sê sowat 60 moorde vind per dag in Suid-Afrika plaas, en bedank polisiebeamptes wat hulle beste doen in moeilike omstandighede om verdagtes vas te trek.
Intussen het OFM, ter ondersteuning van Agri Securitas, 'n nie-winsgewende organisasie wat hulle vir landelike veiligheid beywer, 'n projek, genaamd #BakkieArm, van stapel getuur. Die woord bakkie-arm verwys na ’n bestuurder se regterarm wat weens verlengde blootstelling aan die son bruiner gebrand is as hul linkerarm. ’n Bakkie-arm-mou kan teen ’n donasie vanaf R100 elk aangekoop word op OFM se webwerf. Volg #BakkieArm op sosiale media vir die jongste nuus oor dié fondsinsameling.
