Central SA
Kabeldiefstal ontwrig gesondheidsdienste by Vrystaatse hospitaal─── HEIDRÈ MALGAS 11:57 Tue, 26 Jul 2022
Kabeldiefstal ontwrig steeds gesondheidsdienste by die Bongani-streekhospitaal in Welkom.
Volgens die Vrystaatse woordvoerder van die Gesondheidsdepartement, Mondli Mvambi, is die hospitaal sedert die kabeldiefstal Maandagaand van kragopwekkers afhanklik. Die situasie duur steeds voort.
“Die teaterspan van die Bongani-streekhospitaal is aangesê om beskikbare teaters in die distrik en die provinsie te evalueer as 'n moontlike alternatief wat tydens ernstige noodgevalle gebruik kan word terwyl die kabel vir elektrisiteitstoevoer herstel word,” het hy gesê .
Mvambi het bygevoeg dat die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, Montseng Tsiu, haar teleurstelling uitgespreek het oor hierdie vandalisme omdat dit menselewens bedreig wat lewensondersteuning en nooddienste benodig. Hy het bygevoeg dat infrastruktuurdienste aandag gee aan hierdie dringende saak.
Mvambi het gesê die kabel sal hopelik binnekort herstel word en dat gesondheidsdienste so gou moontlik weer normaal sal wees.
“Die publiek sal ingelig word van die vordering wat gemaak word,” het Mvambi gesê.
