Central SA
Handgemaakte houtkarre veroorsaak opslae op Facebook─── HEIDRÈ MALGAS 12:53 Tue, 16 Aug 2022
’n Facebook-plasing van Danie Cloete van Parys, wat houtmotors maak, het opslae veroorsaak met baie mense wat gereageer het op die ongelooflike werk wat hy doen.
Cloete vertel dat hy 10 jaar oud was toe hy begin het met houtwerk, en dis amper 50 jaar gelede. Hy het 15 jaar gelede ernstig begin raak met die houtkarretjies.
“Dit vat my so ‘n week om op een kar te werk, party karre wat meer ingewikkeld is om te maak sal my dan so min of meer tien dae vat om te bou,” het Cloete gesê.
Hy vertel sy gunstelling kar wat hy al ooit gemaak het, is die 1948 Chevrolet Fleetline. Die kleur daarvan is tussen ligbruin en khaki.
Cloete het al meer as 300 van die houtkarre gemaak en hy het ná die Facebook-plasing ook meer as 300 bestellings gekry.
“Ek sal die 300 bestellings kan maak as my geriewe my toelaat. Die plaas waarop ek werk, het nie elektrisiteit nie en ek werk maar met ‘n sonpaneel en ‘n koplamp in die aande. Alhoewel dit baie lank gaan neem, sal dit gedoen kan word,” het hy gesê.
Hy het vertel hy hoop dat hierdie deurbraak hom sal toelaat om sy werkswinkel te kan uitbrei met ordentlike beligting sodat hy in die aande kan werk.
Cloete sê sy grootste droom is om eendag ‘n vol-grootte Chevrolet te maak, wat net so groot soos die oorspronklike een is.
Danie se werk kan op Facebook op Danie's Wood Creations gesien word en bestellings kan ook op dié blad geplaas word.
