On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Brand suid van Bloemfontein reeds oor 15 plase, eis talle diere

───   HEIDRÈ MALGAS 15:58 Tue, 16 Aug 2022

Brand suid van Bloemfontein reeds oor 15 plase, eis talle diere | News Article
'n Brand wat 'n jaar terug, op 18 Augustus 2021, ook tussen Bloemfontein en Reddersburg langs die N6 gewoed het en groot skade aangerig het. FOTO: Facebook

’n Veldbrand wat tans woed tussen Reddersburg en Bloemfontein het reeds talle diere se lewens op meer as 15 plase geëis.

Quinton van Willing van die Koppieskraal-landbouvereniging vertel dat die veldbrand al baie ver versprei het en dat die brand by die Tierpoort-dam begin het en reeds oor minstens 15 plase is, waar talle diere doodgebrand het.

Hy vertel dat die manne wat die brand probeer blus, moeg is want hulle sukkel al van 09:00 vanoggend af.

Van Willing vertel dat die brand op pad Dewetsdorp toe is en dat die wind verskriklik erg is. Hulle het dringend hulp van alle kante af nodig, maar die publiek word gewaarsku teen die gevaar wat brande inhou.


Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging (FSUFPA) het bevestig dat die brand tussen Tom’s Place op die N1 en die N6 voortwoed.

OFM-nuus het vroeër berig dat gevaarlike tot baie gevaarlike veldbrandtoestande van 16 tot 17 Augustus oor groot dele van die Vrystaat, Noordwes, en Noord-Kaap verwag word.

Die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging waarsku dat veldbrande onder hierdie toestande maklik aansteek en vinnig kan versprei. Inwoners word versoek om waaksaam te bly en om nie warm of brandende materiaal weg te gooi of betrokke te raak by aktiwiteite wat 'n veldbrand kan veroorsaak nie.

Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, het vroeër aan OFM-nuus gesê dat Augustus-maand die aanvang van die hoë risiko veldbrandseisoen is, met dagtemperature wat begin styg, en die welbekende Augustus-winde wat normaalweg woed.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.