Central SA
SpaceX-satelliettrein verskyn oor Vrystaatse naghemel─── 15:50 Tue, 30 Aug 2022
'n Ongewone string ligte het vroeër hierdie week in die naghemel verskyn, wat veroorsaak het dat baie mense antwoorde op sosiale media gaan soek het.
Verskeie mense oor Suid-Afrika heen het die ligte aanskou, en sommige mense het geglo dit was vreemde vlieënde voorwerpe of meteoriete.
Dit is beskryf as ’n konstellasie van 54 satelliete wat deur die Falcon 9-vuurpyl gelanseer is op 28 Augustus 2022. Dit is gelanseer vanaf die Cape Canaveral-ruimtestasie in Florida, in die VSA. Die Starlink-satelliete kan twee tot drie dae ná lansering gesien word, volgens prof. Matie Hoffman, bestuurder van Naval Hill Planetarium en professor in Fisika aan die Universiteit van die Vrystaat.
Die Starlink-satellietlansering is ook 'n SpaceX-inisiatief, volgens Hoffman. Die Starlink-satelliete word gelanseer met die doel om wêreldwye internetdekking en universele sellulêre konneksies te voorsien.
Die diens sal 'n geweldige impak hê op veiligheid, gemoedsrus en geleenthede vir individue en besighede wêreldwyd, volgens 'n SpaceX-mediavrystelling. Van die toepassings is om mense in landelike gemeenskappe te verbind, asook afgeleë sensors en toestelle, en mense en toestelle in noodgevalle.
“Dit het onder meer 'n rol gespeel in die oorlog tussen die Oekraïne en Rusland, toe Rusland grootskaalse skade aan die Oekraïne se internetverbindings aangerig het en 'n groot deel van Oekraïne van die internet verwyder het. Elon Musk het toe gereël dat van die satelliete herontplooi word en hy het die nodige hardeware verskaf sodat hulle weer toegang tot die internet kon bekom,” het Hoffman gesê.
Hoffman het verder aan OFM-nuus gesê die satelliete sal vanaand weer in Bloemfontein se naghemel sigbaar wees. Aangesien dit egter 'n paar dae sedert lansering is, sal die sigbaarheid van die satelliete 'n bietjie flouer wees.
Diegene wat die satelliete wil waarneem, sal in 'n donker plek moet wees om dit met die blote oog te kan sien. Die satelliete sal vanaf 19:03:45 in die noordwestelike rigting sigbaar wees, 18 grade bo die horison en sal na raming vir 'n tydperk van 2 minute hou, het prof. Hoffman bygevoeg.
Dit sal nogal 'n goeie idee wees om na Naval Hill, in Bloemfontein, die Vrystaat, te gaan indien mense die satelliete wil sien. Dit is egter raadsaam om 'n bietjie voor sewe in te gaan voordat besoekers later nie toegelaat word nie. 'n Veilige plek om die verskynsel te besigtig, sou naby die planetarium se parkeerterrein wees en mense moet in die rigting van Heuwelsig kyk.
“Diegene wat nuuskurig is, kan gaan kyk na 'n webwerf, 'n mens kan dit maklik onthou - Heaven-above.com - dan kan jy daar gaan inligting kry oor baie satelliete wat jy met die blote oog kan sien en ook inligting oor die Starlink-satelliete en wanneer hulle moontlik van jou ligging af gesien kan word. 'n Mens moet net so bietjie moeite doen om die plek op die aarde redelik akkuraat te gaan kies,” het Hoffman afgesluit.
