Central SA
Kgalagadi-park loop deur onder veldbrand─── 14:53 Mon, 03 Oct 2022
Die veldbrande wat die afgelope week tot Saterdag die Noord-Kaap gesteister het, het die Kgalagadi-oorgrenspark by Mata Mata en die Nossob-ruskamp ook geraak, sê SANparke-woordvoerder, Genevieve Maasdorp.
Maasdorp sê bogemiddelde reënval die vorige somer het bygedra tot die welige gras in die park. Sy voeg by hoewel die brande op die oog af verwoestend lyk, is dit eintlik 'n natuurlike proses. Sy sê weerlig is die oorsaak van die veldbrande by Mata Mata en Nossob, en word deur die park ingevolge 'n goedgekeurde plan bestuur.
Brandbane word rondom die park se infrastruktuur in stand gehou om eiendom en besoekers se veiligheid te verseker. Maasdorp sê ook vanweë die grote van die park, kan diere maklik van een area na 'n ander beweeg - met groter diere wat veldbrande kan vermy deur weg te beweeg van die geaffekteerde area.
Sy het intussen besoekers en boere aangrensend tot die park verseker dat die huidige brande gemonitor word en dat dit geen bedreiging inhou nie.
Die Oranje-landbou unie sal intussen later die week die skade van verlede week se brande - minstens 20 kilometer buite Upington - bekendmaak. Die brandweerhoof van die Gamagara-streek, Adam Myburgh, sê veldbrande het tussen Augustus en September vanjaar drasties toegeneem. Die Gamagara-streek sluit Kathu en Olifantshoek in.
'n Beroep is gedoen op inwoners om nie vure te maak wat tot wegholveldbrande kan lei nie. Motoriste is gevra om nie brandende sigarette vanuit bewegende voertuie te gooi nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
