Central SA
Ondersoek in Kimberley gelas ná ontdekking van liggame van man, vrou─── 13:14 Tue, 11 Oct 2022
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Kimberley in die Noord-Kaap het 'n ondersoek van stapel gestuur nadat die liggame van 'n man en 'n vrou by afsonderlike plekke gevind is.
Die oorledenes is vermoedelik 'n egpaar.
Die ontdekking is die afgelope Sondag gemaak.
Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê die liggaam van 'n 42-jarige vrou is Sondag met ernstige kop- en gesigbeserings langs 'n bakkie op die R31-pad gekry.
Die ondersoek het die polisie na die eienaar van die bakkie gelei, wie se liggaam met 'n skietwond by sy huis in Galeshewe buite Kimberley gekry is.
Kock sê die polisie ondersoek die voorval om presies vas te stel wat gebeur het.
