Central SA
Oom kry lewenslange tronkstraf vir verkragting─── 07:24 Fri, 14 Oct 2022
Die polisie het die lewenslange vonnis verwelkom wat aan 'n 37-jarige man opgelê is vir die verkragting van sy susterskind in Batlharos, Kuruman, in die Noord-Kaap in 2018 toe sy 12 jaar oud was.
Die meisie en haar oom was die betrokke dag alleen tuis by die huis terwyl haar ma dorp toe gegaan het. Hy het haar gedreig en in die slaapkamer verkrag. Sy was te bang om daaroor te praat, maar haar tannie het later op 'n notaboek afgekom waarin sy oor die verkragtingsvoorval geskryf het.
'n Verkragtingsaak is op 24 September 2020 by die polisie aanhangig gemaak en die oom is daarna in hegtenis geneem. Hy is vroeër vandeesweek in die Mothibistad-streekhof skuldig bevind aan verkragting en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en sy naam is in die nasionale register van seksuele oortreders geregistreer.
Kolonel Sipho Kheswa, die waarnemende provinsiale hoof vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid, het die ondersoekbeampte, Keitumetse Semetsa, geloof vir haar nougette ondersoek wat tot die skuldigbevinding en vonnisoplegging gelei het.
