Central SA
DA-LP onthou pa as liefdevol─── HEIDRÈ MALGAS 11:12 Thu, 03 Nov 2022
’n Bloemfonteinse DA-LP sê die dood van sy pa het baie Vrystaters en sy naasbestaandes in besonder geruk.
Werner Horn se pa, die 82-jarige Cecil Horn, was ’n geliefde afgetrede Afrikaansonderwyser. Hy beskryf hom as “streng en reguit maar ook saggeaard”. Sy pa, wat Vrydag 30 Oktober 2022 in die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorlede is, se troosdiens is Woensdag 2 November 2022 gehou.
“Hy was ’n onderwyser vanaf die middel 1960’s nadat hy aan die destydse Heidelbergse Onderwyskollege studeer het,” vertel sy seun, “en het destydse begin skoolhou op Nigel. Hy was ’n hele klomp jare verbonde aan die Hoërskool Heidelberg.”
Horn sr. het sukses behaal as ’n krieketafrigter. Een van die spanne wat hy afgerig het, het die destydse Administrateursbeker gewen. In rugby het hy die Oos-Transvaalse Cravenweek-span afgerig.
“Daarna het ons as gesin verhuis na Lindley in die Oos-Vrystaat, waar hy deeltyds geboer het maar steeds geonderwys het en by sportafrigting bestrokke was.”
Die politikus onthou sy pa streng maar liefdevol. “Dié wat hom as onderwyser gehad het, sal vertel dat hy geweet het hoe om met kinders te werk.”
Sy pa het veral ’n oor en ’n oog gehad vir kinders wat “nie heeltemal in ’n boksie pas nie”. Hy meen: “Dis iets wat ’n mens partykeer die indruk kry dat dit vandag nie meer oral teenwoordig is in die onderwys nie. Natuurlik, as ’n Afrikaansonderwyser van daardie jare, is daar van jou verwag om maar bietjie streng te wees.”
Horn jr. vertel hulle was bevoorreg om die gedenkdiens te hou in die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid, waar sy ouers die laaste paar jaar lidmate is. “Ds. Fritz Potgieter het ’n baie mooi boodskap gelewer. Ons het vrede dat hy nou by die Here is.”
