Central SA
'Feitlik onmoontlik om te skryf as jy nie self lees nie'─── 08:55 Fri, 04 Nov 2022

Die Bloemfonteinse akteur en dramadosent, wat bekend geword het as Ryno Lategan in die sepie Sewende Laan, sê dis feitlik onmoontlik om te skryf as jy nie self gedurig aan die lees is nie.
Chris Vorster het Donderdagaand met prof. Anthea van Jaarsveld van Kovsies gesels by die bekendstelling van sy eerste boek, Franz Marx – uit die perd se bek (Protea Boekhuis, 2022). Hy het gesê enigeen wat wil skryf, moet soveel en wyd moontlik lees.
Vorster het by die Protea-boekwinkel in Bloemfontein gesê al die skrywers met wie hy tydens sy skryfwerk gepraat het, is lief vir lees.
Hy het gesê die skepper van trefferreekse soos Skooldae, Agter Elke Man en Egoli moes aan die begin van sy loopbaan sy stem dik maak om nie as grapjas-akteur naam te maak nie.
Gevra of hy dink wyle Marx sou tevrede gewees het met die boek, het Vorster gesê die oorlede vervaardiger was uiters krities. Hy het probeer om Marx met die boek te eer en sy privaatheid te respekteer. Hy wou geensins 'n sensasionele of sappige biografie skryf nie.