On Now
Weekdays 18:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Nasionale Kinderdag beskerm kinders teen mishandeling

───   HEIDRÈ MALGAS 12:00 Sat, 05 Nov 2022

Nasionale Kinderdag beskerm kinders teen mishandeling | News Article
FOTO: Gallo.

Die eerste Saterdag van November is as Nasionale Kinderdag deur die Suid-Afrikaanse regering verklaar.

Die doel van dié dag is om vordering te beklemtoon wat gemaak word met die regte van kinders. 

Christa Maree, Direkteur van Residensiële Kindersorg by Engo in Bloemfontein, vertel dat kinders se regte en verantwoordelikhede op hierdie dag uitgelig word om kinders teen verwaarlosing, misbruik, mishandeling en vernedering te beskerm.

“Daar is baie gevalle waar Engo-personeel die lewe vir kinders beter gemaak het, maar een wat uitstaan, is die situasie waar twee seuntjies by die jeugsorgsentrum opgeneem is nadat die oupa hulle mishandel [het]. 

"Die een het bly kla oor sy arm wat seer was en die kinderversorger het hulle kliniek toe gevat, en hulle het vir hom pynpilletjies gegee, maar die armpie was steeds seer en uiteindelik het die kinderversorger hom na ‘n private dokter geneem waar hy gesien het die kind benodig dringend hulp.

"Met die hulp van die gemeenskap is die kind se arm gered. Was dit nie vir hierdie kinderversorger se opregte omgee nie, het die kind sy arm verloor," vertel sy.

Sy voeg by waar daar mishandeling of verwaarlosing voorkom, is dit belangrik dat die kind veilig moet wees. Maree sê verder die kinderwet is baie duidelik dat verwaarlosing of mishandeling deur enige professionele persoon aangemeld moet word. 

Sy sê dit kan ‘n predikant, dokter, verpleegster of ‘n onderwyser wees. As enige van hierdie mense mishandeling agterkom, moet dit aangemeld word.

"Kinderregte is belangrik want kinders kan nie altyd vir hulleself praat of optree nie, en uiteindelik behoort kinderregte te lei tot minder verwaarlosing en mishandeling. 

"Kinders is dikwels in onstandighede waar hulle nie eens besef dat hulle kinderregte misbruik word nie.

Voeding

“Voeding speel ‘n baie belangrike rol. Ons sien dikwels kinders wat inkom in die jeugsorgsentrum nie goed geëet het nie, en dit is dikwels ook baie mooi om te sien dat wanneer die kind goed begin eet hoe mooi hy/sy ontwikkel. 

"‘n Kind wat nie eet nie, kan nie kosentreer nie en daarom het sulke kinders dikwels agterstande op skool,” vertel sy.

Sy sê almal van ons kom in aanraaking met ouers en kinders, en elkeen van ons het ‘n talent of ‘n gawe wat ons vir iemand anders kan bied, en dat ons dit moet probeer raaksien. Maree voeg verder by dat mense lief moet wees en omgee vir die kinders wat op hulle pad kom.

Suid-Afrika se nasionale grondwet het 'n artikel wat direk oor die regte van kinders handel. 

Dit word Artikel 28 genoem. 

Dit lê basiese regte uiteen wat elke kind vanaf geboorte gegee moet word. Dit sluit in 'n naam en nasionaliteit, gesins- of ouersorg (of alternatiewe sorg indien dit nie moontlik is nie) en basiese voeding, skuiling, gesondheid en maatskaplike dienste. 

Dit bepaal ook dat kinders beskerm moet word teen enige mishandeling van enige aard, sowel as uitbuitende arbeid.

Nasionale Kinderdag dien as 'n herinnering dat alle kinders onder die grondwet beskerm word.

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.