Central SA
Kimberley-pad met riool oorstroom─── HEIDRÈ MALGAS 06:00 Sun, 06 Nov 2022
Een van Kimberley se besigste en gevaarlikste paaie, Barklyweg, gaan onder herhalende rioolstortings in China Square gebuk.
Volgens ‘n DA-raadslid in die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit, George Joseph, het drie dodelike voorvalle die afgelope twee maande op dié roete voorgekom, waarvan dit meestal deur slaggate naby die Santa-afdraai veroorsaak is.
Joseph sê alhoewel die slaggate later gevul is, vreet die riool wat op die pad uitloop steeds aan die teer weg, wat veroorsaak dat die slaggate wéér verskyn. Hy sê die munisipalieit maak gereeld die verstopte dreine in China Square skoon, maar binne 'n dag of twee kom die storting weer. Vanaf China Square beweeg die riool in die straat af en in Barklyweg.
As gevolg van verstopte stormwaterdreine in die hoofroete, versamel dit daarna op die oppervlak van die pad, deel Joseph verder.
“Behalwe vir die ooglopende gevare wat [die] bogenoemde situasie inhou, hou dit 'n gesondheidsrisiko in vir voetgangers en die inwoners wat langs die pad en die riool woon.
"Die riool is ook 'n oogseer en 'n afskrikmiddel vir beleggers, gegewe die baie mense wat deur Kimberley reis, via hierdie hoofweg,” sê Joseph.
Hy het bygevoeg dat selfs wanneer hulle gereeld hul kommer aan onder meer Sol Plaatje uitgespreek het, is die stormwaterdreine steeds geblokkeer, en is die grondoorsake van die rioolstortings nie voldoende aangespreek nie.
“[Barklyweg] is 'n hoërisiko-pad vanweë die konstante hoë volume verkeer wat dit ervaar. Dit is betreurenswaardig dat Sol Plaatje se nonchalante reaksie dit nog minder veilig gemaak het,” het hy bygevoeg.
Hy sê die DA sal voortgaan om handtekeninge in te samel vir 'n petisie om te eis dat die munisipaliteit die langtermyn herstel van die rioolstortings, die ontblokkering van die stormwaterdreine en uiteindelik die veiligheid van almal wat op Barklyweg reis, prioritiseer.
"Dit is die minste wat die munisipaliteit kan doen, ter ere van diegene wat reeds hul lewens op hierdie pad verloor het.”
OFM-nuus wag op kommentaar van die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit.
