Central SA
Noord-Kaapenaar by Woordfees in Stellenbosch vereer─── 09:46 Sun, 13 Nov 2022
’n Vakadviseur verbonde aan die Noord-Kaapse Departement van Onderwys, JC Claassen, het die gesogte WOW: Onderwyser van die Jaar-toekenning by die Woordfees in Stellenbosch ontvang.
Die toekenning is tydens die jaarlikse Woordfees aan hom oorhandig, as erkenning van sy betrokkenheid by die Woorde Open Wêrelde (WOW)-spelkompetisies.
Die departement, by monde van een van die direkteure, Gordon March, sê die prestasie is 'n bewys dat die Noord-Kaap se strewe na gehalte-onderwys momentum begin kry.
“Ons is almal baie trots op mnr. Claassen se prestasie,” sê hy.
Claassen sê die WOW-spelkompetisie speel ’n belangrike rol in leerders se akademiese prestasie op skool .
“Dit is van kardinale belang dat ons leerders die taal korrek verstaan, praat en skryf. Dit speel 'n groot rol in leerders se akademiese prestasie op skool, asook in die ontwikkeling van leerders se potensiaal om uiteindelik naskoolse opleiding te ondergaan en waardige, suksesvolle landsburgers te word.”
OFM-nuus/Roderick Titus
