Central SA
Sangleermeester Werner Nel oorlede─── 05:15 Wed, 23 Nov 2022
Huldeblyke stroom in vir prof. Werner Nel van die Noordwes-Universiteit se Skool vir Musiek, wat Dinsdag 22 November 2022 op 81-jarige ouderdom oorlede is. Hy word beskou as een van Suid-Afrika se voorste konsertleermeesters.
Nel is op 5 Augustus 1941 in Stettin, Duitsland, gebore. Hy was een van die Duitse oorlogswesies wat ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika gebring is om hier deur Afrikaanse ouers aangeneem te word.
Hy het in Oos-Londen grootgeword en skoolgegaan aan die Hoërskool Grens, waarna hy aan Rhodes-Universiteit studeer het en by die private skool Kingswood College in Grahamstad skoolgehou het.
Later het hy aan die Noordwes-Universiteit studeer, waar hy ook meer as 30 jaar klas gegee het en vele sangers se mentor was.
Talle kunstenaars het op Facebook aan hom hulde gebring.
Die sangeres Rina Hugo skryf: "My geliefde sangdosent Werner Nel is oorlede. Sonder jou sou ek nie die loopbaan kon hê wat ek gehad het nie, Werner. Al my liefde aan Zella en die kinders. Rus nou in vrede, Werner."
Hy was 'n bekende bariton en het erkenning verwerf as kunslied- en konsertsanger. Hy was van 1974 tot 2010 verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Skool van Musiek en Konservatorium, en word beskou as een van Suid-Afrika se voorste konsertleermeesters.
