Central SA
Onreëlmatige uitgawes in Noord-Kaap ondersoek─── 09:37 Mon, 28 Nov 2022
‘n Ondersoek is van stapel gestuur na onreëlmatige uitgawes in die Noord-Kaap.
Provinsiale LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Abraham Vosloo, het die aankondiging gedoen tydens die voorlegging van die gewysigde provinsiale begroting in Kimberley.
Hy het gesê die provinsie kan teen 2024 skuldvry wees indien staatsdepartemente nie in die 2022/23-boekjaar oorbestee nie.
Volgens Vosloo sal die Noord-Kaapse begrotingstekort vir die boekjaar 2023/24, R749 miljoen beloop.
Vir die boekjare 2023/24 tot 2025/26 sal die provinsie se totale begroting R62,7 miljard beloop.
'n Bedrag van R1,2 miljard sal oor die volgende drie jaar aan die Departement van Onderwys en Gesondheid toegeken word. Hy sê die prioriteite waarvoor begroot is by Gesondheid, sluit vergoeding van werknemers, asook anti-retrovirale- en tuberkulose behandeling in.
Die fondse vir onderwys sal hoofsaaklik koshuissubsidies en munisipale rekeninge betaal, asook vergoeding vir werknemers. Die LUR het ook aangekondig dat die werkloosheidsyfer in die provinsie met 23,7% afgeneem het.
OFM-nuus/Roderick Titus
