Central SA
Noord-Kaap stuur “Arrive Alive”-veldtog van stapel─── 11:35 Wed, 07 Dec 2022
Die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling in die Noord-Kaap, Nomandla Bloem, stuur Donderdag die provinsiale Arrive Alive-veldtog op die N14 buite Kuruman van stapel.
Dit maak deel uit van die provinsie se padveiligheidsprogram om veral padongelukke – wat die afgelope tyd gereeld op die pad voorgekom het – hok te slaan. Die departement se woordvoerder, Renny Andreas, sê die veldtog sal ook bewustheid oor voetgangers opskerp en veral motoriste daaraan herinner dat gereelde rus noodsaaklik is.
Hy sê die R31 en N14 is die fokus omdat druk verkeer verwag word. Hy sê bewusmaking onder die gemeenskap is van kardinale belang omdat dit alle verbruikers se verantwoordelikheid is. Hy sê meer verkeersbeamptes sal op die paaie wees, veral waar daar gereeld ongelukke voorkom. Andreas sê voetgangers wat deur voertuie raakgery word, is ook veral snags 'n bron van kommer. Mense word daarom aangemoedig om nie snags langs paaie te loop nie, veral nadat hulle gedrink het nie.
Andreas sê sigbaarheid, deur middel van duidelike of helder kleredrag, is van kardinale belang. Die departement het laastens inwoners wat die Noord-Kaap gaan besoek, gevra om die padreëls te gehoorsaam. Eienaars van veral taxi's en busse moet kennis neem dat geen roekelose en nalatige bestuur, óf oorlaaide voertuie en dronkbestuur, geduld sal word nie.
