Central SA
Saak teen vuurwapenwinkeleienaar oorgeplaas na streekhof─── 09:43 Sat, 10 Dec 2022
Die eienaar van ’n Upington-vuurwapenwinkel wat in hegtenis geneem is op aanklag van die besit en handel in onwettige vuurwapens en ammunisie, se saak is Vrydag na die streekhof in Upington oorgeplaas.
Die Valke het in Junie vanjaar op die 46-jarige Christiaan Klindt se winkel toegeslaan.
Dit het gevolg nadat hulle inligting oor onwettige vuurwapens ontvang het.
Daar is op verskeie vermeende onwettige items ter waarde van minstens R7 miljoen beslag gelê. Dit sluit iPads en geheuestokkies asook eksterne hardeskywe, jaggewere, sowel as windbukse en 303 patrone en patroondoppies in.
Dae ná sy arrestasie is Klindt onder streng voorwaardes op borgtog van R50 000 vrygelaat.
Die staat het tydens Vrydag se verskyning gevra dat die saak na die streekhof oorgeplaas en tot 6 Februarie 2023 uitgestel word.
OFM-nuus/ Roderick Titus
