Central SA
Uitstaande skuld belemmer lewering van dienste in Upington─── 08:27 Fri, 27 Jan 2023
Agterstallige skuld van nagenoeg R207 miljoen is van die redes waarom die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington sukkel om behoorlike dienste aan sy inwoners te lewer.
Dit is die woorde van die hoof-finansiële beampte van die munisipaliteit, Ruaan Strauss.
Die munisipale gebied is die grootste in die land, ná die inlywing van die voormalige Mier- en //Khara Hais-munisipale regsgebiede in 2016.
Strauss sê die sondebokke is regeringsdepartemente wat meer as R28,9 miljoen aan die munisipaliteit skuld, gevolg deur sakeondernemings en laastens huishoudings.
Hy sê die munisipaliteit dwing diegene om hulle agterstallige skuld te betaal deur elektrisiteitstoevoer af te sny, maar dié metode is ondoeltreffend waar daar geen elektrisiteittoevoer is om af te sny nie terwyl dienstegeld vir watertoevoer, sanitasie en gewone erfbelasting wel agterstallig is.
LEES OOK: Upington het nie water 'vir tuinmaak en swembaddens'
Die munisipaliteit het volgens Strauss onlangs die dienste van ‘n skuldinvorderaar gestaak weens buitensporige tariewe wat gehef is, en besluit om hul invorderingsafdeling die taak op te lê om die meer as R200 miljoen aan agterstallige skuld in te samel.
Strauss sê die munisipaliteit doen alles moontlik om dienslewering volgens die voorgeskrewe wetgewing aan inwoners te voorsien, maar sukkel weens inwoners, sakelui en regeringsdepartemente wat nie hul skuld betaal nie - terwyl dié wat wel vir munisipale dienste betaal daaronder ly as dienslewering verswak weens ‘n gebrek aan fondse.
Hy noem as ‘n voorbeeld die Abraham ‘Holbors’ September-watersuiweringsaanleg wat elektrisiteitsaangedrewe is en chemikalieë gebruik wat duisende rande kos om gehalte-water te verseker.
Hy sê die voortdurende beskadiging van infrastruktuur, wat die diefstal van kabels wat vervang moet word insluit, is ‘n uitdaging. “Daar word lank gewag vir voldoende fondse om die nodige herstelwerk te doen terwyl inwoners weet wie die misdadige elemente is en hulle nie rapporteer nie.”
Die munisipaliteit sê hulle poog steeds om alle dienste regoor die enorme regsgebied te lewer en maak staat op inwoners, sakelui en die regeringsdepartemente om hulle skuld te betaal.
OFM-nuus/Roderick Titus
