On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

NWU ontken AfriForum Jeug se aantyging van rasse-uitsluiting

───   MORNÉ VAN ROOYEN 08:42 Sun, 12 Feb 2023

NWU ontken AfriForum Jeug se aantyging van rasse-uitsluiting | News Article
Inwoners van dorpskoshuise in Potchefstroom neem Saterdagoggend stelling in buite die NWU se amfiteater oor beweerde rasse-uitsluiting. Foto: AfriForum Jeug

Die Noordwes-Universiteit word van rasse-uitsluiting beskuldig nadat Potchefstroom se dorpskoshuise glo Vrydagaand halftwaalf per WhatsApp gevra is om Saterdag 11 Februarie 2023 weg te bly van die jaarlikse verwelkomingsessie in die amfiteater.

AfriForum Jeug eis antwoorde van die NWU omdat eerstejaars van die dorpskoshuise in afsonderlike lokale virtueel aan die geleentheid moes deelneem. Die organisasie sê die dorpskoshuise is Vrydagaand halftwaalf per WhatsApp van dié reëling in kennis gestel.

Volgens die organisasie het ’n SR-lid kwansuis by navraag gesê die dorpskoshuise is nie “divers” genoeg nie en sou “te wit” gelyk het wanneer hulle eerstejaars tydens die sessie in die amfiteater gevra sou word op te staan.

’n Groot groep dorpskoshuis-bewoners het Saterdagoggend by die amfiteater saamgekom om hul ontevredenheid oor die besluit te kenne te gee en standpunt in te neem teen wat hulle as “rasse-uitsluiting” beskou.

AfriForum Jeug sê ’n NWU-bestuurslid, wat rapporteer aan die uitvoerende direkteur van studentelewe, het die groep studente gevra om uiteen te gaan. Hy het na bewering gesê die kampus kon nie, soos vorige jare, stellasies bekostig om die eerstejaarstudente van dorpskoshuise in die amfiteater te akkommodeer nie.

“Dit is bisar dat die Puk (sic) sommige van hul studente, wat reeds betaal het vir registrasie en oriëntasie, ontneem van hul eerste studente-ervaring op (die) kampus omdat hulle so rasbehep is dat hulle studente op grond van hul velkleur uitsluit,” het René van der Vyver, AfriForum-woordvoerder, Saterdag gesê.

“(Voorts) is rasseklassifikasie en rassediskriminasie reeds deel van die toelatingsvereistes vir die kampus se koshuise, en nou is die studente wat daar uitgesluit word en geen ander keuse het as om by ’n dorpskoshuis aan te sluit nie, ook nie op ander plekke welkom nie.”

NWU-woordvoerder Louis Jacobs het aan OFM-nuus gesê die universiteit neem kennis van die bewerings dat dorpskoshuise op grond van hulle rassesamestelling uitgesluit was van die verwelkomingsessie. 

“Sover vasgestel kan word, is dit egter gedoen weens die groot aantal studente in hierdie koshuise en is hulle gevra om in ander lokale te kyk na die (regstreekse) uitsending van die geleentheid. Verdere inligting word ingewin om duidelikheid oor die aangeleentheid te kry.”

AfriForum Jeug se Adrienne Krause het in ’n verklaring gesê: “Dit is ontstellend dat HK-lede, wat deur studente as leiers verkies is, nie toegelaat word om standpunt in te neem oor kwessies op die kampus nie.

“Hulle word op die nippertjie vergewis van belangrike inligting wanneer hulle laatnag boodskappe met opdragte ontvang. Wanneer hulle dan opdaag en opstaan teen die onregverdige uitsluiting, word hulle weggejaag.”


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.