On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Rebellegroep ontvoer oud-Vrystater in Paraguay

───   BAMBATHA GIKO 11:36 Wed, 15 Feb 2023

Rebellegroep ontvoer oud-Vrystater in Paraguay | News Article
Danie Coetzee (75) by sy dogter Dané. FOTO: Facebook

’n Gewese Vrystater, wat al 30 jaar in Paraguay boer, is Sondag deur 'n geheimsinnige, Marxistiese rebellegroep ontvoer.

Die Paraguayaanse Volksleër (EPP) eis 'n losprys van VS$300 000 (sowat R5,4 miljoen) vir die vrylating van Danie Coetzee (75), skoonpa van die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, ’n voormalige Cheetahs-hulpafrigter wat boer by Verkeerdevlei buite Bloemfontein.

Paraguay se grootste dagblad, ABC Color, beweer egter die rebellegroep het heel moontlik die verkeerde man ontvoer. Luidens gerugte was hul teiken veronderstel om Coetzee se welgestelde buurman te wees. Claus Escher is 'n gesiene sakeman in die plattelandse distrik Indepencia. 


Coetzee is Sondagaand 12 Februarie 2023 omstreeks 19:30 ontvoer terwyl hy oudergewoonte op ’n pad naby sy vark-en-pluimveeboerdery gaan wandel het, sowat 150 km suidoos van die hoofstad, Asunción. Hy het sy vrou, Martie, gebel kort nadat hy ontvoer is om te sê hoeveel sy ontvoerders eis. Sedertdien het sy nog nie weer van hom gehoor nie.

Die Kriminele Ondersoekdirektoraat van die Suid-Amerikaanse land se nasionale polisie het Maandag ’n helikopter ingespan om beamptes in die soektog te help. "Ons kan nie oor besonderhede praat nie," het genl. César Silguero, direkteur van die direktoraat, aan ABC Color gesê, "maar ons kan die versekering gee dat ons alles in ons vermoë doen om Coetzee lewend op te spoor."

Silguero sê hy kan nie sê of die ontvoerders professionele misdadigers of beginners is nie; hulle moet eers meer inligting inwin. "Ons het goeie inligting van die gemeenskap ontvang en sal enige tersaaklike inligting waardeer." Hy sê dit was aanvanklik moeilik om met Coetzee se naasbestaandes te kommunikeer weens die taal (Paraguay se amptelike taal is Spaans), maar hulle het dié probleem oorkom.


Hy sê hulle gebruik alle hulpbronne tot hul beskikking om die landelike omgewing te fynkam. "Een daarvan is 'n helikopter om oor die gebied te vlieg. Beheerpunte is ook op strategiese plekke opgestel."


Coetzee en sy vrou het sowat 30 jaar gelede na Paraguay geëmigreer. Die distrik waar hulle woon, Independencia, is bekend vir sy groot Duitse gemeenskap, hoofsaaklik nasate van immigrante uit Nazi-Duitsland, asook Oostenryk, Switserland en Hongarye. Bure het aan ABC Color gesê Coetzee is taamlik welgesteld, maar nie so ryk dat sy gesin ’n reuse-losprys sal kan betaal nie. Dit laat hulle bespiegel dat die rebellegroep, wat verantwoordelik is vir ’n reeks ontvoerings en moorde, veral op boere, eintlik vir Escher in die oog gehad het. 

Dié buurman was die eerste wat met Martie kontak gemaak het nadat Coetzee ontvoer is en het met die polisie kontak gemaak. Escher sê hy betreur die tekort aan polisiebeamptes om die distrik met sy groot bevolking buitelanders te patrolleer. "Ons het meer sekuriteit nodig en het lankal gevra vir ’n polisiekantoor nader aan ons en het dit gekry, maar ons kort meer beamptes."

OFM-nuus/Bambatha Giko and Morné van Rooyen

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.