On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Saak teen Noord-Kaapse polisieman uitgestel

───   10:09 Thu, 23 Feb 2023

Saak teen Noord-Kaapse polisieman uitgestel | News Article

Die 40-jarige Claudius Minnaar van De Aar het in die streekhof op dié Noord-Kaapse dorp verskyn nadat hy na bewering met 'n polisiebakkie reg van voor in 'n wit Volkswagen Polo vasgery het.

Dié polisiesersant is vroeër in hegtenis geneem nadat hy vermoedelik onder die invloed van drank was en in siviele klere geklee was tydens die voorval. 'n Video daarvan is op sosiale media versprei. 

Die woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, Mojalefa Senokoatsane, sê die 40-jarige polisiesersant staan tereg op aanklagte wat die oortreding van die Padverkeerswet, asook die wetlike perke van drank, insluit.

Hy sê die wet bepaal dat geen persoon in die bestuursitplek van 'n motorvoertuig mag sit, met die enjin wat luier, of 'n voertuig mag bestuur wanneer onder die invloed van drank nie. 

Hy sê die beampte is ná die ongeluk op 18 Februarie vanjaar agter die stuur van die dubbelkajuit polisiebakkie gekry en is ingevolge dié wet aangekla. 

Die saak is deur die streekhof in De Aar tot 28 Maart vanjaar uitgestel om die beskuldigde die geleentheid te gee om 'n regsverteenwoordiger te kry. Die ondersoek na die voorval duur intussen voort. 

OFM-nuus/Roderick Titus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.