Central SA
Polisie in Vryburg trek agt vas vir huisbraak, stropery─── 05:38 Mon, 27 Feb 2023
Die polisie in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-munisipale distrik in Noordwes het vyf vermeende inbrekers en drie vermeende stropers in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem, nadat onwettige wapens en ander toerusting by hulle gevind is.
Op Vrydag 24 Februarie 2023, het die polisie in Vryburg inligting opgevolg oor ‘n wit Hyundai-mini-vragmotor wat op die N14-hoofweg van Kuruman na Vryburg onderweg was. Na wat verneem word, was die insittendes op pad na Mahikeng om te gaan inbreek.
Die voertuig is in Vryburg onderskep. Tydens hul soektog het die polisie twee onwettige vuurwapens, huisbraaktoerusting en verskeie selfone ontdek. Vyf verdagtes is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en huisbraaktoerusting. Daar is ook beslag gelê op die mini-vragmotor.
Die vyf verdagtes, tussen 30 en 59 jaar oud, sal na verwagting Maandag 27 Februarie 2023 in die Vryburg-landdroshof verskyn.
'Vermoedelike stropery'
In die tweede, onverwante voorval is drie verdagtes Vrydag 24 Februarie in Morokweng naby Vryburg in hegtenis geneem vir die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.
Dit volg nadat die polisie inligting ontvang het oor vermoedelike stropery by een van die private wildreservate in die omgewing. 'n Verdagte Toyota-bakkie wat van Vorstershoop na Morokweng onderweg was, is voorgekeer en na die polisiestasie in Morokweng begelei.
Die bakkie is deursoek en 'n jaggeweer, knaldemper, jagmes en ammunisie is ontdek.
Drie verdagtes, onderskeidelik 34, 40 en 56 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag 27 Februarie 2023 in die Ganyesa-landdroshof verskyn.
Die provinsiale polisiekommissaris, Sello Kwena, het die lede wat aan die operasies deelgeneem het, geloof vir hul toewyding wat gelei het tot die arrestasies van verdagte kriminele en die permanente verwydering van onwettige vuurwapens en ammunisie uit die verkeerde hande.
