Central SA
Gemeenskap hewig ontsteld oor vergete baba se dood─── 15:50 Fri, 03 Mar 2023
Inwoners van Klerksdorp en Stilfontein het die afgelope week geskok gereageer op die nuus dat ’n 11 maande oue baba gesterf het nadat ’n familielied hom langer as ses uur agterin ’n toe motor vergeet het.
Klerksdorp Record berig die familielid was veronderstel om die baba ná sewe verlede Vrydagoggend by die kleuterskool af te laai nadat hy twee ouer kinders by die laerskool afgelaai het. Hy het egter huis toe gery, gaan slaap, en eers halftwee die middag die lewelose babaseuntjie ontdek toe hy weer die ouer kinders moes gaan oplaai.
Klerksdorp Record-redakteur Salomé Kotze sê hul lesers het baie emosioneel op die nuus gereageer, van uiterste skok en selfs mense wat woedend gereageer het …
Volgens polisiewoordvoerder Amogelang Malwetse het die 28-jarige man, ’n neef van die baba se ma, die lewelose baba ontdek toe hy Vrydagmiddag om 13:30 wou ry om die kinders by die skool te gaan oplaai. Die motor was by die huis op Stilfontein geparkeer. “Die kinders se ma het hom weer gestuur om die kinders by die skool te gaan haal toe hy die baba agter in die motor ontdek. Die kind se ouers het met hom na Wilmed Park gehaas waar die baba by aankoms dood verklaar is.’’
Die hospitaal het die polisie ontbied en ’n geregtelike ondersoek en ’n saak van kinderverwaarlosing is aanhangig gemaak. “ ’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal,” het sersant Malwetse gesê.
