On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Thebe Magugu: Van Kimberley tot Parys-modeweek

───   17:54 Mon, 06 Mar 2023

Thebe Magugu: Van Kimberley tot Parys-modeweek | News Article
Thebe Magugu, wêreldbekende mode-ontwerper van Kimberley. FOTO: Facebook

Die Kimberley-gebore ontwerper Thebe Magugu se ontwerpe uit sy herfs/winter 2023-versameling is tans by die Parys-modeweek te sien.

Die 29-jarige Magugu beskryf die versameling as folklore – geïnspireer deur grootwordstories uit sy kinderjare. “Stories wat van geslag tot geslag oorgedra is,” vertel hy in ‘n artikel deur TimesLive. 

Hy het in 2019 die LVMH-prys vir jong ontwerpers gewen – die eerste Afrika-ontwerper om dit reg te kry - en het feitlik onmiddellik moderoem behaal. In die daaropvolgende maande was sy skeppings by die Parys- en Londense modeweke te sien en het hy bekendes soos Rihanna, Naomi Watts en Lupita Nyong'o geklee.

Volgens Business of Fashion wil Magugu deesdae ’n bietjie uit die kollig tree en plaaslik fokus - meer op Johannesburg, waar hy mode studeer het, en Afrika in die algemeen. Hy glo dit sal die volgende fase van sy loopbaan aanvuur.

Magugu spesialiseer in kontemporêre vroueklere met eg-Suid-Afrikaanse kulturele en historiese raakpunte, helder kleure en futuristiese uitkyke op tradisionele vroulike silhoeëtte.

"Ek dink baie Suid-Afrikaners sal binky binky (opgestopte diere vir kinders) en stories soos die Vlieënde Hollander verstaan. Ek het hierdie en simbole uit my kinderdae geneem, waarvan sommige gebruik is om vrees aan te wakker, en dit in 'n pragtige versameling omskep, met 'n klem op drukwerk.

Drukwerk op ‘n pajama-styl bloes en bypassende sjaalbaadjie vertel ‘n storie van 'n skipbreuk by die Kaap van Goeie Hoop, met matrose en meerminne, terwyl ‘n pêrelwit syrok spog met brullende tiere om die soom van sy geplooide romp, en grotkuns op 'n geplooide kort rok en bypassende reënparka.

Hy het die afgelope paar jaar groot hoogtes op die internasionale modetoneel behaal, met gesamentlike projekte met groot name soos Adidas, Valentino en Christian Dior.

In November 2022 het hy en Charlize Theron saam aan ‘n Dior-versameling ten bate van die Charlize Theron Afrika-uitreikprojek gewerk. “Ek het 'n serp, top, romp, stewels en 'n sak vir die versameling ontwerp.

“Terwyl ek Charlize nie persoonlik ontmoet het om die projek te bespreek nie, was ons in kontak via Instagram en per foon om dit te bespreek. Tussen haar verfilming en my verpligtinge kon ons digitaal saam met die Dior-span aan die projek werk.”

Magugu het 'n aantal wêreldwye projekte op sy horison. “Daar is ’n hele paar interessante projekte in die toekoms maar ek kan nou niks sê nie. Die Adidas-projek was 'n jaar lank in wording. Dit was 'n pragtige versameling. As Suid-Afrikaner glo ek ons kan pragtige dinge uit niks skep.

"Dit is eintlik waaroor 'n versameling vir my gaan, die fynheid in die eenvoudige dinge wat dikwels oor die hoof gesien word. Ek sien daarna uit om hierdie jaar meer interessante versamelings te skep."

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.