Central SA
Letsemeng kry waarnemende munisipale bestuurder─── 07:35 Wed, 08 Mar 2023
Kadimo Joseph Masekoane is as waarnemende munisipale bestuurder by die Letsemeng-plaaslike munisipaliteit aangestel.
Masekoane was tot en met sy aanstelling die waarnemende munisipale bestuurder van die Dihlabeng-munisipaliteit.
Hy was voorheen ‘n senior bestuurder by die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).
Hy sal vir drie maande waarneem totdat ‘n munisipale bestuurder aangestel is.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Letsemeng-raad sê die party neem kennis van Masekoane se aanstelling.
“Die raad het 'n werwingsplan vir die vakante munisipale bestuurderspos aanvaar. Volgens die plan sal die begindatum van die nuwe munisipale bestuurder in Mei 2023 wees,” sê Mariska Potgieter, DA-raadslid.
“Die DA sal druk op die raad plaas om te verseker dat al die waarnemende poste gevul word aangesien dit gekoppel is aan dienslewering en aanspreeklikheid.”
Letsemeng-munisipaliteit bedien die gebiede van onder meer Koffiefontein, Luckhoff en Jacobsdal.
Dihlabeng-munisipaliteit bedien die gebiede van onder meer Bethlehem, Clarens, Bohlokong en Fouriesburg.
