Central SA
DA, VF Plus vra optrede teen stakers wat hospitale ontwrig─── 17:13 Wed, 08 Mar 2023
Die landwye staking van gesondheidspersoneel het die Demokratiese Alliansie (DA) en die Vryheidsfront Plus (VF Plus) genoop om die regering te vra om in te gryp en teen stakers op te tree.
Die VF Plus sê die National Education Health and Allied Workers Union (Nehawu) se staking het 49 instellings regoor Suid-Afrika heeltemal tot stilstand gebring.
“Die VF Plus het die minister van gesondheid, Joe Phaahla, versoek om dringend op te tree teen stakers wat besig is om staats- en provinsiale hospitale landwyd erg te ontwrig,
“Ons het verneem van naasbestaandes van pasiënte wat self moes inspring om hulle te versorg. In baie gevalle is pasiënte sonder sorg, kos of medikasie gelaat wat hul gesondheid en lewe bedreig.
“Ambulanse kan in baie gevalle nie toegang kry om pasiënte wat lewensnoodsaaklike hulp nodig het na die hospitale te neem nie en mense wat vir roetine-ondersoeke aanmeld, word geïntimideer en gedreig en moet sonder enige behandeling omdraai.”
Die VF Plus het minister Phaahla versoek om die minister van polisie, Bheki Cele, te betrek om toe te sien dat die publiek toegelaat moet word om behandeling te ontvang.
“Daar moet streng opgetree word teen enige stakende gesondheidswerker wat die lewe van pasiënte bedreig.”
LEES OOK: Free State Nehawu delivers on promise of continued strike
Intussen wil die departement van staatsdiens en administrasie nie toegee aan Nehawu se eise van salarisverhogings van tussen 10% en 12% nie en volstaan by 4.7%.
“Hoewel stakers se optrede en die bedreiging van pasiënte se lewe nie geduld word nie, moet die regering die skuld kry vir die krisis, in ag genome die haglike omstandighede waaronder gesondheidswerkers daagliks moet werk, met baie min hulpmiddels tot hul beskikking.
Intussen het die DA aangekondig dat sy lede toesig by die Pelonomi-, Nasionale Distrik- en Universitas Akademiese hospitale in Bloemfontein gaan hou.
Volgens Michele Clarke, die DA se skaduminister van gesondheid, gaan ‘n handjievol verpleegpersoneel van Pelonomi uit vrees vir viktimisasie incognito in siviele klere werk toe om kritieke pasiëntsorg te handhaaf.
“Noodsaaklike werkers word met geweld gedreig en gekeer om hul pligte uit te voer, ten spyte van 'n hofbevel wat die versperring van ingange of geboue verbied. Dit is skokkend dat dreigemente en intimidasie plaasvind, dikwels ten aanskoue van die polisie.”
Die DA het 'n beroep op Nehawu-stakers gedoen om rasioneel en kalm te bly. “’n Loongeskil moet nooit ’n katalisator vir dood en vernietiging wees nie.”
