On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
Show Background
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Piet Els-moordverhoor weer in Kimberley uitgestel

───   CHARNÉ KEMP 13:53 Mon, 13 Mar 2023

Piet Els-moordverhoor weer in Kimberley uitgestel | News Article
Die hooggeregshof in Kimberley Maandag waar sewe beskuldigdes verskyn het op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede ná die aanval waarin in Piet Els, sakeman van Kimberley dood is. Foto: Charné Kemp

Die verhoor van die sewe beskuldigdes wat aangekla word van die moord in 2018 op die Kimberleyse sakeman Piet Els, en die gepaardgaande aanval op sy vriendin, is Maandag 13 Maart weens regstegniese probleme weer uitgestel.

Die verhoor, wat tot 11 April uitgestel is, duur reeds meer as twee jaar. Dit is verlede jaar ontwrig nadat een van die beskuldigdes beweer het twee van sy medebeskuldigdes, onder wie Jabulani Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het hom gedreig.

Daarna het die regsverteenwoordiger wat drie beskuldigdes verteenwoordig het, onttrek.

Die aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Els (86), ’n sakeman in diamantkringe, en sy vriendin, Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer met 'n strykyster gemartel en aangerand. Alsemgeest het oorleef.

Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede.

Mbokane, wat voorheen beweer het hy is gedreig terwyl hy in die getuiebank was, was Maandag afwesig. ’n Mediese sertifikaat is weens sy ongesteldheid ingedien.

Intussen het Zuma se vorige regsverteenwoordiger ook onttrek.

Zuma het Maandag aan die hof gesê hy wil ’n nuwe aansoek om borgtog op nuwe feite bring. Hoewel hy voorheen gesê het hy gaan ’n privaat regsverteenwoordiger aanstel, het hy Maandag versoek dat Regshulp Suid Afrika hom bystaan.

Albert Buthelezi, Regshulp SA prokureur wat vir Mbokane optree, het gesê hy kan weens botsende belange nie ook vir Zuma optree nie. Boonop is hy nog in fondse geplaas nie.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.