Central SA
Noordwes-studente poog rekord met langste ry sanitêre doekies─── 08:07 Mon, 27 Mar 2023

Studente van die Noordwes-Universiteit en leerders van Mahikeng-hoërskole het Saterdag 25 Maart probeer om 'n wêreldrekord vir die langste ry sanitêre doekies op te stel.
Sowat 60 000 van 100 000 doekies wat deur weldoeners geskenk is, is vir die rekordpoging gebruik wat oor ‘n afstand van vier kilometer gestrek het.
Die sanitêre doekies word aan meisies uit benadeelde gemeenskappe geskenk, wat gereeld skool misloop weens ’n gebrek aan doekies.
Hoewel die doel is om 'n Guinness-wêreldrekord te verbeter, sê die organiseerders hulle wil ook jong meisies en vroue bystaan wat dit nie kan bekostig om sanitêre doekies te koop nie.
“Sanitêre doekies is duur en meisies en vroue kan dit enige tyd nodig kry. Ons wil winkelsentrums, skole en werkgewers versoek om dit gratis beskikbaar te stel.”
Die adjunk-visekanselier vir die Mahikeng-kampus, prof. Sonia Swanepoel, sê die universiteit sal verseker dat sanitêre doekies beskikbaar is vir behoeftige studente op die kampus.
“Bidvest het onderneem om ons te help met houers vir sanitêre doekies en dit is ’n inisiatief wat ons verder wil neem, nie net vir ons universiteitstudente nie, maar ook vir die gemeenskap rondom Mahikeng.”
Vrywilligers uit die gemeenskap, asook leerders van ses skole, naamlik Batswana, Letsatsing, Sol Plaatje, die Internasionale Skool van Suid-Afrika, Golf View en Hoërskool Mafikeng het aan die rekordpoging deelgeneem.