Central SA
Lyf die hele Vrystaat by Lesotho in, vra LP─── 17:18 Thu, 30 Mar 2023
’n Parlementslid van Lesotho wil ’n ambisieuse grondeis instel om die hele Vrystaat, asook dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Noord-Kaap en Mpumalanga by Lesotho in te lyf.
Lesotho se parlement het Woensdag (29/3) ’n mosie gedebatteer wat deur Tsepo Lipholo van die Basotho Covenant Movement ter tafel gelê is, naamlik om die bergkoninkryk se grondgebied te verdriedubbel deur groot dele van sy buurland op te eis. Geen slotsom is bereik nie.
Lipholo se argument, volgens SABC News, is dat die grond aan Lesotho behoort het voordat deur wit Suid-Afrikaanse kolonialiste ingeneem is. “Die probleem het in 1652 begin toe wit setlaars die grond beset het.”
As sy mosie in die parlement slaag, sal dit 'n proses begin wat kan meebring dat die territoriale eis in 'n wet verander word, berig TimesLive.
Die mosie is gebaseer op ’n 1962-resolusie van die Verenigde Nasies wat die reg op selfbeskikking en onafhanklikheid vir die mense van Basoetoland – soos Lesotho destyds genoem is – erken.
Dit is nie die eerste keer dat Lesotho se hedendaagse grense 'n onderwerp van bespreking is nie. In 2018 het 'n burgerlike groep bekend as die Free Basotho Movement aan Lesotho se ambassade in Brittanje geskryf om te versoek dat wyle koningin Elizabeth die huidige grens verwyder - wat Lesotho in wese 'n 10de provinsie van Suid-Afrika sal maak.
Die Sowetan berig dat Lipholo meen dit is “onregverdig dat Lesotho slegs 30 000 vierkante kilometer het, terwyl 240 000 vierkante kilometer deur Suid-Afrika geneem is.
“Vandag word Basotho’s in Suid-Afrika op hul eie grond onderdruk met die hulp van sy eie mense – politici."
Lipholo sê die “ware grense van Lesotho is vanaf die Tugelarivier langs Bergville, Newcastle, Standerton tot Sasolburg, Kimberley en verder Orania, Aliwal-Noord (Maletswai) tot Port St. Johns, Kokstad“.
