Central SA
Buitelandse plaaswerkers in Noord-Kaap in hegtenis─── 11:47 Wed, 05 Apr 2023
Die Departement van Binnelandse Sake in die Noord-Kaap het verskeie ongedokumenteerde buitelanders op plase in die Kai Garib-munisipale gebied tydens ’n immigrasie-gedrewe operasie in hegtenis geneem.
Die departement se kantoorbestuurder in Upington, Patrick Davids, sê die dokumentasie van buitelanders is nagegaan om vas te stel of hulle wel geregistreer is om in Suid Afrika te werk.
Die dokumente van 21 Chinese burgers is by Postmasburg nagegaan en daar is bevind dat hulle wel die nodige toestemming het om in Suid-Afrika te mag werk.
Altesame 63 onwettige buitelanders is op vyf verskillende plase in die Kakamas-gebied in hegtenis geneem en na die Lindela-aanhoudingsentrum in Krugersdorp vir deportasie gestuur.
Die departement sê hulle sal voortgaan om buitelanders se dokumentasie te monitor.
