On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Duisende verwag by Kruistog op Vredefort

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:58 Wed, 05 Apr 2023

Duisende verwag by Kruistog op Vredefort | News Article

Die gemeenskap van Vredefort in die Noord-Vrystaat is in rep en roer om alles gereed te kry vir die tweede jaarlikse aflewering van Die Kruistog dié Goeie Vrydag (7/4).

“Ons het ’n klomp mense in hierdie gemeenskap wat hard kan werk,” sê Juan Greeff, organiseerder, van die reëlings om tot drieduisend mense op die dorp te verwelkom. “Hulle is elke dag besig om voor te berei, om mooi te maak, om die dorp netjies te kry.”

Sowat 1 500 mense het in 2022 aan die eerste Kruistog deelgeneem. Vanjaar word tot twee keer soveel verwag.

Hy vertel ná die sukses van die eerste kruistog verlede jaar, het hulle besluit om dit weer aan te bied, maar dié keer is daar geweldige belangstelling. “Ons is baie opgewonde om hulle te ontvang en om iets met hulle te deel van dit wat in ons hart is van hierdie wonderlike Paasgebeure.”

Langs die 3km lange roete sal weer stasies wees wat elkeen iets uit die lewe van Jesus uitbeeld. “Iewers waar Hy was, ’n wonderwerk wat Hy gedoen het, ’n gelykenis wat Hy vertel het …”

Die hele gemeenskap van Vredefort span saam om die dorp en sportterrein gereed te kry vir die groot intog van deelnemers aan Die Kruistog.

Vanjaar se stasies is nuut geskep. “Ons het byvoorbeeld die verhaal van die verdroogde vyeboom; ons het die gelykenis van die onkruid en die koring; ons het die goeie herder wat uitgebeeld gaan word; en ons het die vermeerdering van die visse en brode wat voorgestel gaan word.”

Greeff sê dit alles “is so gemaak om mense net bietjie ’n visuele konteks te gee van die verhale wat ons in die Bybel lees en die wonderlike getuienisse wat daar is.”

Die idee van ’n kruistog op Vredefort het ontstaan uit ’n gesprek sowat ses weke voor Paasfees verlede jaar. “Ons het gesels oor hierdie wonderlike gebeurtenis, die kruisiging wat plaasgevind het,” onthou Greeff.

Die Kruistog is veral vir die kinders iets besonders omdat hulle kan sien hoe Bybelse waarhede uitgebeeld word.

“En hoe dit eintlik die hele mensdom verander en beïnvloed het en die omvang daarvan. As ’n mens kan begin verstaan wat dit beteken en hoe groot dit was, dan besef ’n mens dat almal dit nie altyd presies verstaan en die omvang daarvan begryp nie.

“Toe sê ons vir mekaar hier in Vredefort: Wat gaan ons doen om Paasfees spesiaal te maak vir onsself en ons mense en vir ons gemeenskap? Toe begin ons met hierdie kruistog-idee.

“Ons besluit toe ons gaan ’n groot vlot bou, van hierdie vlotte wat die universiteit gereeld bou met jool hier in Potchefstroom en op ander plekke.”

Geen preke of praatjies word op die sportterrein aangebied nie, maar almal kan deelneem aan lofprysing en aanbidding.

Verlede jaar het hulle ’n groot wit kruis gebou. “Ons het 44 000 plastiekblommetjies gevou en in daardie kruis ingedruk en baniere onder opgesit wat sê: ‘Jesus Christus is die Lam van God.’

“Toe het ons daardie vlot die dag hier in Vredefort getrek met ’n trekker deur die strate. Ons het so ’n 3 km-roete uitgelê en ons het toe 1 500 mense gehad wat opgedaag het om saam hierdie optog mee te maak.

 “Elkeen het sy eie kruis gebring en dit was wonderlik om mense se kreatiwiteit te sien. Ons het gesê mense moet sommer van enigiets wat hulle kry, kruise maak.

Dis ’n spanpoging om die vlot gereed te kry.

“Hier’s mense wat van die plaas af gekom het met doringtakke wat hulle gesny het. Ander het ou doringdraad gebruik. Hier’s ouens gewees wat ’n reusekruis gebou het wat twee of drie mense gedra het.”

Greeff sê dit was fantasties om die verskeidenheid kruise te sien. “Ons het dié dag toe ’n wonderlike belewenis gehad. Mense het agterna vir ons WhatsApps gestuur en briewe geskryf en gesê: Sjoe, dit was regtig iets besonders gewees en ons sien [daarna] uit om weer daar te wees.”

Vir die organiseerders was dit wonderlik om te sien hoe, sodra mense ’n Bybelse uitbeelding sien, dit ’n bietjie meer betekenis bydra tot dit wat hulle met die jare gelees en gehoor het. “Daar gaan nuwe dinge vir hulle oop wat hulle voorheen nie ‘gesien’ het nie,” vertel Greeff.

Die roete is 3 km lank, maar vir ouer deelnemers wat dit nie te voet kan aflê nie, word spesiale voertuie gereël wat saam ry in konvooi.

Ook die voorbereidings laat mense besin oor die betekenis van Paasfees. “Iemand het toevallig vir my gesê hulle is besig om doringkrone te maak wat êrens gebruik gaan word.

“En die persoon sê toe hy sit met hierdie hoop dorings wat hy moet vleg en hierdie krans, en vir die eerste keer besef hy: Die ou wat daardie doringkroon moes vleg wat op Jesus se kop gedruk is, wat moes in sy hart gewees het.

“Wat motiveer jou om hierdie dorings wat jou ook steek en wat ongemaklik is en ’n moeilike ding is, om daarvan ’n kroon te wil vleg en dit op iemand se kop te sit?

Verlede jaar is 44 000 plastiekblommetjies gevou vir die kruis vooraan die optog.

Die komitee van 32 wil graag hê “mense moet ervaar, ons wil hê hulle moet beleef, ons wil hê hulle moet sien en ons wil hê hulle moet waardeer wat Jesus gedoen het. Dis die hart van dit waarmee ons besig is.”

Die roete van sowat 3 km lank en loop deur Vredefort se strate. “ Ons trek weg by Vredefort se sportterrein en ons keer weer terug soontoe,” sê Greeff. “Daar by die sportterrein gaan ons ook die oggend ’n lekker programmetjie hê van mense wat kom saamsing en lofprysing en aanbidding doen.

“Dan gaan ons uit op die roete. En wanneer ons terugkeer, dan gaan ons almal saam Nagmaal gebruik. Daar is nie preke of boodskappe of enigiets nie.

‘Die kinders geniet Die Kruistog geweldig baie’

“Ons gebed is net dat mense ’n wonderlike belewenis sal hê soos hulle op die roete stap en dat alles wat daar uitgebeeld word, tot hulle sal spreek.”

Dit beloof om ’n belewenis te wees van klank en sang en simboliek en alles wat Paasfees kan uitbeeld. “Ons is bevoorreg dat ons mense hier op die dorp het wat vir ons ’n geweldige klankstelsel op ’n bakkie gaan plaas wat saam met die optog langs die roete saam met die twee vlotte ry, en hierdie pragtige Paasliedere wat ons so goed ken, word heeltyd gespeel.”

Greeff vertel dis ’n geleentheid vir oud en jonk. “Die kinders geniet Die Kruistog geweldig baie. Dis vir hulle ’n groot voorreg om met ’n kruisie te loop en iets uit te beeld van dit wat ons glo.

Die Kruistog duur van 11:00 tot 13:00 op Goeie Vrydag, waarna almal saam Nagmaal gebruik.

“Ons wil ook spesiaal ons ouer mense uitnooi. Baie van die ouer mense sien nie kans om die 3 km-roete te loop nie, maar ons het ’n klomp wildsplase hier rondom Vredefort en hierdie ouens stuur vir ons hulle wildbesigtigingsvoertuie en ons laai die ouer mense daarin en hulle ry ook op die roete. Hulle is deel van die konvooi en dis regtig vir hulle net so ’n besonderse belewenis.”

Hy sê langs die roete sal stalletjies wees wat kos en koeldrank verkoop. “So mense is sommer net welkom om lekker te kom saamkuier.

“Ons het ’n groot tent wat ons vanjaar opslaan; so tussen twee- en drieduisend mense kan binne-in hom sit. So ons het genoeg kapasiteit om almal te hanteer.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.