Central SA
Oos-Vrystaatse sangeres (17) oorgehaal vir deurbraak - VIDEO’S─── BAMBATHA GIKO 15:58 Thu, 06 Apr 2023
’n Tiener van Bethlehem, wat al van kleins af sing, is oorgehaal vir ’n deurbraak in die musiekbedryf met die uitreiking van haar jongste liedjie.
Anri Reyneke (17) het reeds vier enkelsnitte en ’n musiekvideo uitgereik. Op 17 April kom haar vyfde snit, “Ek wil jou nie laat gaan nie”, aan die beurt.
Sy sê sy wil graag glo haar musikale reis het op kleuterskool begin toe sy “Twinkle Twinkle Little Star” op die verhoog gesing het. Maar sy het eers in gr. 5 haar musiektalent begin slyp.

“My kleuterskoolonderwyseres het altyd vir my gesê ek sing mooi. Ek dink dit was omdat hulle vir jou móét sê jy sing mooi, maar ek dink ek het in gr. 5 besef ek kan sing, en toe van daar het ek dit bietjie verder gevat en ja, hier’s ons nou.”
Tydens haar grootwordjare was Karlien van Jaarsveld een van die musikante wat Anri se liefde vir sang aangevuur het.
“Eintlik was my grootste inspirasie Karen Zoid. Ek het die liedjie ‘Angel’ geluister, en toe’s ek van: Ek wil dit speel.”
Die opkomende jong musikant het haarself leer kitaar en ukulele speel, en later het sy ook die elektriese kitaar onder die knie gekry. Haar eerste kitaar het sy gekoop met sakgeld wat sy tydens Covid-19 verdien het met huis skoonmaak.
“Ek het altyd klavier gespeel, maar ek weet nie, die kitaar is vir my meer wie ek is.”
Een van Anri se grootste prestasies is dat sy saam met die Afrikaanse rockgroep Spoegwolf gesing het, iets waarmee min jong opkomende sangers kan spog.

Maar haar trotsste oomblik was om haar musiekvideo te maak.
Danksy haar musiekonderwyseres, Lizelle Pieterse van LimitLiz Talent Factory, kon die gr. 11-leerder van Hoërskool Witteberg haar eerste liedjie opneem.
Anri het haar eerste liedjie by 2Tones-ateljee in Bloemfontein opgeneem, “Can I be the one”. Daarmee het sy ’n liedjieskryfkompetisie gewen wat haar die geleentheid gebied het om by 2Tones-ateljee op te neem.
“Lizelle het … ’n liedjieskryfwerkswinkel aangebied waaraan ek deelgeneem het, en toe wen ek die kompetisie uit 10 ander leerlinge wat daar was vir die liedjies wat hulle geskryf het.”
Anri sê as ’n mens van ’n kleiner plek af kom, is jy geneig om deur die “alledaagsheid” ingesluk te word, want jy kan voel asof niks vir jou gebeur nie. “Daar is geen geleenthede nie en dit is maklik om negatief te word.”
Daarom het haar deelname aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir die Uitvoerende Kunste (Sacopa) haar gehelp om die lewe buite haar dorp te ervaar en gehelp om haar perspektief oor musiek en die lewe te verbreed.
“Toe ek deelgeneem het aan Sacopa, was dit ’n baie groot eye-opener van dit wat daar buite in die wêreld is en dit wat ek kan bereik.”
“Ná Sacopa … het ek al hierdie geleenthede gekry om oorsee te gaan en ek het baie vriende en baie mense wat ek leer ken het, baie nuwe kulture waarvan ek geleer het.”

Sy sê Sacopa het haar aan ’n verskeidenheid nuwe musiek en sangstyle blootgestel, waarvan sommige vir haar heeltemal nuut was.
Aanhangers kan nou baie meer diverse inhoud van haar verwag en sy kan skaars wag dat mense haar nuwe liedjie hoor.
Ná die talentvolle tiener se sang in die ateljee het OFM navraag gedoen oor waar haar musiektalente vandaan kom. Dit blyk egter sy is die uitskieter in haar familie. Haar ma, Liza Reyneke, sê die enigste musikale aktiwiteit waaraan sy ooit deelgeneem het, was toe sy op skool in ’n koor was.
Reyneke sê as gesin is hulle baie trots op hul dogter en vind dit ’n voorreg om haar ouers te wees en deel te wees van hierdie talent wat sy aanhou ontwikkel.
Sy moedig ander ouers aan om altyd hul kinders te ondersteun in wat hulle ook al doen en nie as’t ware deur hulle te probeer leef deur hulle in ’n rigting te dwing wat hulle nie wil hê nie.
“Ondersteun net jou kind, negatief of positief, opdraande en afdraande, want daar is altyd kritici daar buite. Laat hulle ontwikkel teen hulle eie tempo en op hulle eie manier en in dit waarvan hulle hou.”
