Central SA
Noord-Kaapse beampte in hof weens beweerde bedrog─── 09:01 Thu, 20 Apr 2023
Die Valke in De Aar in die Noord-Kaap het Dinsdag ’n verdagte staatsamptenaar (56) in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, wat verband hou met eiendom.
Kaptein Tebogo Thebe van die Valke sê die verdagte, ’n direkteur by die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het beloof om ’n koopooreenkoms tussen ’n grondeienaar en koper te fasiliteer en het R95 450 vir die transaksie ontvang. Thebe sê die regmatige eienaar het nooit só ’n transaksie gedoen of goedgekeur nie.
Die verdagte, Sicelo Williams, is Vrydag op borgtog van R3 000 vrygelaat en verskyn weer op 22 Mei vanjaar in die Landdroshof op De Aar.
Die ondersoek na die voorval duur volgens Kaptein Tebogo Thebe voort.
