On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Besighede, skole blom danksy Wildeklawer

───   CHARNÉ KEMP 06:18 Fri, 28 Apr 2023

Besighede, skole blom danksy Wildeklawer | News Article
Die terrein van die Hoërskool Diamantveld waar van die hoof-rugbywedstryde en die hoërskole netbaltoernooi plaasvind. Foto: Facebook/Absa Wildeklawer Sport.

Geldkassiere klingel vanjaar weereens in Kimberley met die 13de immergewilde Absa Wildeklawersportbyeenkoms wat vandeesweek begin het en tot Maandag duur.

Dié jaarlikse toernooi skep ook vele werksgeleenthede.

Volgens Cassie Carsten, toernooibestuurder, het studies wat verlede jaar gedoen is getoon die ekonomiese inspuiting vir die provinsie is tussen R100 en R120 miljoen. Mense stroom in van al agt ander provinsies. Verlede jaar is 26 000 toegangskaartjies verkoop. Sowat 4 450 atlete, afrigters, en organiseerders en leerlinge word vanjaar verwag, asook ouers, ondersteuners en sportentoesiaste.

Altesaam 188 spanne van 85 skole gaan in sokker-, netbal- en rugby-wedstryde by die Laerskool Newton, Hoërskool Diamantveld, Kimberley Boys High en die Sol Plaatje Universiteit speel. Die belangrikste rugbywedstryde word deur SuperSport Schools uitgesaai. Die byeenkoms bestaan uit 'n laerskole-, junior- en seniortoernooi asook ‘n Noord-Kaapse uitnodigingstoernooi.

Verblyf in Kimberley was maande gelede vol bespreek en omliggende dorpe se gastehuise is ook propvol. Eetplekke en vulstasies baat ook.

Pieter van Niekerk, ondervoorsitter van die Hoërskool Diamantveld Oud Studentebond, sê die bemarkingswaarde vir die skool is van onskatbare waarde omdat die wedstryde ook uitgesaai of gestroom word. “Die inkomste wat die skool uit onder meer die biertent en kosstalletjies kry, is ook 'n enorme hupstoot. Kimberley het nie baie geleenthede waarin so baie mense op een slag hier geld bestee nie.”

Hy besit ook die Civic Motors- vulstasie. “Die toernooi, benewens vakansietye en lang naweke, is 'n baie welkome inspuiting en die rybane is vol.”

Gerrit de Boer, eienaar van Pro Plants kwekery, teetuin-restaurant wat ook gastekamers op die terrein het, sê die toernooi doen ongelooflik baie vir die stad, sy besighede en inwoners. “Ons moet baklei dat dit altyd in Kimberley, wat baie sentraal geleë is, aangebied sal word. Dit is een van die toonaangewendste toernooie in die land. Ons as 'n klein stad het min sulke inspuitings vandat die Gariep Kunstefees ophou bestaan het.”

Hy is bemoedig dat die Sol Plaatje-munisipaliteit die dorp begin skoonmaak het. “Selfs besighede is gedwing om ekstra moeite te doen om alles netjies en reg te kry.

“My gastekamers is maande gelede vol bespreek, hoewel daar 'n week gelede kansellasies was weens atlete wat beseer is of nie die span gemaak het nie. Die vakante kamers is vinnig gevul. Een nadeel is dat opportuniste 'n geleentheid sien en verblyf teen hoë pryse aan desperate mense bied. Dit mag 'n swak indruk skep.”

Madeleen Vos wat die Ambassador-gastehuis besit, sê hulle steun swaar op die toernooi. “Ons het verskeie laerskole en hoërskole se atlete, afrigters en skeidsregters wat oorbly. Ons verskaf drie etes 'n dag en kospakkies.”

Sy neem jaarliks ekstra mense in diens om die meer as 100 gaste te bedien.

Hulle is reeds ? jaar vooruit bespreek. “Ons is die organiseerders van die toernooi diep dankbaar vir die geleentheid. Winkels waar ons as gastehuise daagliks vars en ander produkte moet koop, doen ook baie goed.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.