Central SA
Bloemfontein groet ’n matriarg─── 12:40 Tue, 02 May 2023
Baie Bloemfonteiners staan vandag vir ’n oomblik stil voordat hulle oor die drumpel van die afdelingswinkel Kloppers tree. Soos een van die klante tereg opmerk: “Ek het my hoed met die inloop gelig.”
Die matriarg, die stille krag, ma en ouma van die Klopper-familie het die afgelope naweek gegroet. Skat (Aletta) Klopper is Vrydagaand op 91-jarige ouderdom in haar aftreehuis oorlede, “saggies in haar slaap, gewoon aan ouderdom”, soos wat haar seuns dit stel.

Skat Klopper saam met haar ses seuns en skoondogters, kleinkinders en agterkleinkinders.
Dié formidabele vrou se pad het in 1950 van Montagu na Bloemfontein gelei. In 1952 is sy met Willem, eienaar van Kloppers, getroud.
Sedert die familiesaak sy deure in 1967 geopen het, het Skat deurlopend ’n groot ondersteunende rol in die onderneming gespeel. Sy was ook jare lank betrokke by die sustersvereniging van die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Wes (nou GK Vleuels). Blomme was haar passie, en sy leef dit ook tydens haar ses seuns se skoolloopbaan uit in die versorging van Grey Kollege se tuine.
Oudredakteur van Volksblad, Hennie van Deventer, verwys met nostalgie na Skat as ’n groot seder van Bloemfontein wat “heen” is. Die welstand van haar seuns, skoondogters en kleinkinders was vir haar die belangrikste. Steva en Leon onthou vandag met ’n glimlag hoe hulle ma nog tot twee jaar gelede daagliks skinkborde vol kos by die winkel afgelaai het.
Die bydrae wat hierdie merkwaardige vrou so onselfsugtig tot haar stad en gemeenskap gelewer het, sal nog langer as ’n leeftyd voortleef. Maar dit sal veral die foto wees van ’n ma en ’n ouma op die middelstoel in die voorste ry, die een waarop sy saam met haar seuns na ’n tenniswedstryd kyk, nog een met al agt agterkleinkinders langs en oor haar, wat in die voorhuis van vele harte sal hang.
