On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Brandfort rou oor die moord op ’n boer, sakeman

───   12:25 Fri, 05 May 2023

Brandfort rou oor die moord op ’n boer, sakeman | News Article

“Ons is verslae. Nie oor die daad alleen nie, maar oor die waansin.”

So sê ’n inwoner van Brandfort, wat anoniem wil bly, ná die moord op nog ’n boer en sakeman van die omgewing. Lambertus Lochner (70) Dinsdagmiddag (2/5) voor sy slaghuis in Voortrekkerstraat deur ’n vermeende kabeldief met ’n mes doodgesteek.

Slegs ure ná die voorval is ’n man (49) in verband met die moord aangekeer. Hy verskyn Vrydag (5/5) in die hof.

‘Sy hart was oop vir die armes’

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se landelike veiligheidskomitee, beskryf ’n voorval soos hierdie as onaanvaarbaar, brutaal en onmenslik. ’n Huweliksmaat, ses kinders en vyftien kleinkinders het ’n man en oupa verloor. Ook ly ’n hele gemeenskap by die verlies van ’n geliefde inwoner wat sy plek volgestaan het as boer, en gedien het in verskeie verenigings.

Die orrelbouer Jan Elsenaar, ’n jare lange inwoner van Brandfort, onthou Lambertus as ’n vriend van elke dorpenaar wat nooit by jou sou verbyry sonder om sy hand te lig om te groet nie.

’n Werker vertel dat hy altyd na hierdie boer kon gaan vir raad oor sy beeste, en dat sy hart oop was vir die armes.

Die Engelgedenkteken voor die Moederkerk op Brandfort gedenk die slagoffers van die plaaslike konsnetrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902).

Nog ’n Brandforter, wat ook anoniem wil bly, vertel dis die derde moord binne vyf jaar in hul gemeenskap. Die plattelanders is moeg en stil, die meeste wil naamloos bly wanneer hulle om kommentaar genader word. ’n Gevoel van angs heers om ’n naam aan enige mening of uitspraak te heg. Plaasmoorde word deesdae ook dorpsmoorde.

In die tuin van die NG Moedergemeente Brandfort staan die bekende standbeeld van ’n engel wat die vroue en kinders gedenk wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die plaaslike konsentrasiekamp gesterf het. Vrydag (12/5) word ’n boer hier begrawe.

Ons gesels met Frans Posthumus, gastehuiseienaar. Terwyl hy praat oor die stil maar lojale boer en slaghuiseienaar wat veels te vroeg uit hul gemeenskap geruk is, dink ’n mens onwillekeurig aan die bekende woorde van ‘n Afrikaanse lied: “’n Engel huil, ek hoor (haar) stem.”

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.